’n Warmwaterpastei-kors is veel makliker om te maak as skilferkors. Jy kry nou wel nie die lagies nie, maar dis net so

lekker ryk en vlokkig.

Lewer 2 kleinerige pasteie

Bereiding: 20 minute

Staantyd: 40 minute in vrieskas

of oornag in koelkas (deeg)

Baktyd: 30-40 minute

KORS

2 ml (½ t) sout

500 ml (2 k) koekmeel

250 g yskoue botter

1 eiergeel

5 ml (1 t) yskoue water

5 ml (1 t) suurlemoensap

125 ml (½ k) kookwater

VULSEL

6-8 appels, in dun skyfies gesny

5 ml (1 t) fyn kaneel

5 ml (1 t) gemengde speserye

100 g strooisuiker

gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen

250 ml (1 k) amandelsplinters, gerooster

250 ml (1 k) fyn amandels

125 ml (½ k) sultanas

1 eiergeel geklits met melk

Voorverhit die oond tot 200 °C.

  1. Kors Voeg die sout by die meel. Sif ’n bietjie daarvan in ’n bak en rasper ’n bietjie botter oor. Herhaal die lae om die meel en botter eweredig te versprei. Klits die eiergeel en yskoue water saam en sprinkel oor die botter-en-meelmengsel. Vryf dit liggies met die vingers in. Voeg die suurlemoensap by die kookwater en sny dit vinnig met ’n mes in om ’n slapperige deeg te vorm. Laat oornag in die koelkas staan of plaas in die vrieskas tot yskoud maar steeds bewerkbaar. Rol die deeg 5 mm dik op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Vou in derdes en laat goed afkoel.
  2. Rol die deeg liggies uit tot sowat 4 mm dik.
  3. Plaas ’n omgekeerde bord op die deeg en sny ’n sirkel uit. (Druk die oorskiet deeg bymekaar, rol weer uit en sny nog ’n sirkel uit.)
  4. Plaas op ’n bakplaat. Vulsel Meng al die bestanddele behalwe die eiergeelmengsel en skep op die tertkors. Los ’n rand van sowat 3 cm rondom.
  5. Vou die deeg rofweg op oor die vulsel en verf met die eiergeelmengsel. Bak 30-40 minute tot die kors goudbruin en gaar is. Sit lou voor met room.