Een van die eerste dinge wat ek ontdek het toe ek in Brasilië aankom, was die caipirinhas. Almal drink dit en dis fantasties lekker – ek kan my nie ’n partytjie in São Paulo daarsonder voorstel nie. Selfs as jy in Rio de Janeiro op die strand lê, is daar kelners wat heen en weer hardloop om vir mense caipirinhas aan te dra.

Dis ideaal vir ’n partytjie, want die bestanddele is relatief goedkoop; ’n sak lemmetjies, suiker, ys en ’n bottel cachaça of wodka kan ongeveer 10 tot 14 caipirinhas maak. Cachaça is ’n alkohol soos ons “cane spirit”, maar ek vind wodka is sagter op die tong. As jy wodka verkies, soos ek, word dit ’n caipiroska genoem.

Stap 1: Sny die lemmetjies in die lengte deur om kwarte te vorm. Sny die wit van die lemmetjie, waaraan die pitte gewoonlik vas is, af. Dit help die lemmetjiesap om makliker uit te vloei en hou die bitterheid uit jou drankie.

Stap 2: Gooi die kwarte (omtrent een tot twee lemmetjies per drankie, afhangende van hoe sappig die lemmetjies is) in ’n mengbakkie en gooi ’n eetlepel suiker per drankie by. Pers dit fyn met ’n stamper sodat die suiker en lemmetjiesap meng.

Stap 3: Gooi die lemmetjie-en-suiker-mengsel in ’n glas saam met die skille van die kwarte. Jy kan elke glas ’n derde vol gooi met hierdie mengsel. Gooi dan genoeg ys in dat die watervlak styg tot ongeveer half vol, of selfs twee derdes vol. (Gebruik kort glase, soos dié vir whisky.)

Stap 4: Maak die res van die glas vol met wodka of cachaça. As jy voel dit is ’n bietjie sterk, kan jy sodawater, gewone water of nog ys bygooi.

Geniet! Of, soos die Brasiliane sê: “Saúde!”

Wenk Lemmetjies is goedkoop in Brasilië, maar kan baie duur wees in Suid-Afrika en jy kan min of meer dieselfde smaak kry met ’n gewone suurlemoen. Die Brasiliane gebruik ook nie net lemmetjies nie; hulle maak met enige vrug ’n caipirinha. Aarbeie, pynappel, kiwi en grenadella is die gewildste variasies. Ek hou veral van die aarbei-caipiroskas.

Dalena Theron

Dalena, tans Huisgenoot se hoof van bemarking en kliënte, is in 2012 saam met haar man, Thomas, na Brasilië verplaas.

Toe ons Desember in Suid-Afrika was, het ek my vriendinne geleer om dit te maak.

Hier neem my vriendin Corali ’n foto van ons “supersized” caipirinhas.

dalena2