Genoeg vir 6 mense

Bereidingstyd: 20 minute

Gaarmaaktyd: 30 minute

200 g spinasie

30 g botter

45 ml (3 e) meel

60 ml (¼ k) melk

100 g biltongstukke

100 g camembertkaas

250 g filodeeg

gesmelte botter vir verf

1 Voorverhit die oond tot 180 °C.

2 Kook die spinasie in ’n pan met ’n bietjie water tot net verlep. Keer dit in ’n sif uit en laat afkoel. Druk dan die vloeistof uit en kap grof.

3 Smelt die botter in ’n pot oor matige hitte en roer die meel in om ’n gladde pasta te vorm. Voeg die melk geleidelik by terwyl jy roer tot dit glad en sonder klonte is. Verlaag die hitte en laat prut 5 minute of tot dik. Voeg die biltong, kaas en spinasie by en laat afkoel.

4 Rol die deeg oop en bedek met ’n klam lap sodat dit nie uitdroog terwyl jy werk nie. Verf ’n vel deeg met die botter en rangskik dit in ’n losboomkoekpan sodat die deeg oor die kant hang. Herhaal met die oorblywende deeg en rangskik die velle so dat die hele koekpan op die ou end uitgevoer is. Skep die spinasiemengsel in die middel van die deeg en vou die deegvelle oor die vulsel. Sorg dat dit heeltemal bedek is. Verg met nog ’n bietjie botter.

5 Bak die pastei 30 minute of tot bros en goudkleurig.

- Hope Malau