Die grondboonsous is heerlik en vul die hoender goed aan. Bespaar tyd deur alles in die mikrogolfoond gaar te maak.

Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 10 min.

GRONDBOONSOUS

250 ml (1 k) klappermelk

60 ml (¼ c) growwe grondboonbotter

15 ml (1 e) bruinsuiker

15 ml (1 e) Thaise rooikerriepasta

3 knoffelhuisies, fyngedruk

sap van ½ suurlemoen

SOSATIES

4 hoenderborsies, in lang, plat repe gesny

20 g botter, gesmelt

gekapte grondbone vir garnering

  1. Grondboonsous: Plaas al die bestanddele behalwe die suurlemoensap in ’n mikrogolfbestande bak en mikrogolf 2 minute op hoog. Verwyder en roer. Sit nog 2 minute in die mikrogolf. Roer die suurlemoensap in en sit eenkant om af te koel.
  2. Sosaties: Ryg 2 hoenderrepies aan ’n sosatiepen, verf die hoender met botter en plaas op ’n mikrogolfbestande bord. Herhaal met die oorblywende hoender en botter. Mikrogolf 3 minute op hoog. Bedruip met die grondboonsous en sit nog ’n minuut in die mikrogolf.
  3. Sit die hoender voor met die oorblywende grondboonsous as bykos.