Lewer 4 pasteie

Bereiding: 30 min.

Gaarmaaktyd: 30 min.

15 ml (1 e) olie

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies, fyn gekap

500 g maer beesmaalvleis

2 ml (½ t) fyn komyn

2 ml (½ t) fyn koljander

sout en pas gemaalde swartpeper

45 ml (3 e) blatjang

60 ml (¼ k) gekapte

vars koljander

1 rol (400 g) skilferkorsdeeg

1 eier, geklits

  1. Verhit die olie in ’n groot kastrol, voeg die ui by en braai tot bruin. Voeg die knoffel, maalvleis, komyn, koljander, sout, peper en blatjang by en roerbraai 2 minute. Verlaag die hitte en laat 10 minute prut.
  2. Voeg die koljander by die maalvleismengsel, verwyder van die hitte en laat afkoel.
  3. Rol die deeg uit. Sny in 4 velle. Skep van die mengsel in die middel van elke vel. Verf die kante met die geklitste eier en vou toe.
  4. Plaas die pasteie op ’n toeklaprooster en braai op warm kole tot die deeg bruin is. Skuif die rooster hoër en braai nog sowat 15 minute op stadiger kole tot die pasteie gaar is.