Martine van Blommestein van Buffeljagsrivier naby Swellendam moes produkontwikkeling vir ’n skoolprojek doen. Haar ouers het lank langs die N2 roosterkoek aan haastige motoriste verkoop. Sy het hulle altyd dopgehou en gesien hoe hulle aan die roosterkoek hap en dan vinnig weer hap, want dis so lekker. Vir haar skoolprojek het sy toe hierdie roosterkoek-braaipaai ontwikkel met die leuse “elke hap is beter”.

Genoeg vir 6-8 mense

Bereiding: 20 min.

Rus: 15 min.

Gaarmaak: 20 min.

1 kg bereide roosterkoekdeeg (sy gebruik ’n pak bereide deegmengsel)

VULSEL

250 g cheddarkaas, gerasper

250 g fetakaas, in stukke gebreek

250 g mozzarellakaas, gerasper

2 uie, gesnipper en gebraai

250 g spekvleis, gebraai en fyn gekap

  1. Berei die deeg volgens die aanwysings op die pak. Verdeel in twee en laat 15 min. rus.
  2. Rol die twee stukke deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit in ’n reghoek van 42 x 32 cm.
  3. Plaas een deegreghoek op ’n skinkbord en sprinkel al die vulselbestanddele bo-oor, maar hou ’n rand van sowat 5 mm reg rondom oop.
  4. Verf water al om die rande en plaas die ander stuk deeg bo-op.
  5. Plaas die skinkbord op ’n oopgevoude rooster, maak toe en draai om. Verwyder die skinkbord.
  6. Maak die rooster liggies toe en plaas op warm kole. Draai om wanneer die deeg onder ligbruin is.
  7. Skraap ’n bietjie van die kole uit en braai verder oor matige hitte. Draai ’n paar keer tot die deeg gaar is, sowat 20 min.
  8. Maak die rooster oop, plaas die skinkbord bo-op die roosterkoek, maak weer toe en draai om sodat dit op die skinkbord lê.
  9. Sny in blokke en sit louwarm voor.