#Braaidag: Vyf van die beste resepte vir die kole

Deur Annelene Oberholzer
22 September 2016
Vir talle Suid-Afrikaners is dit bykans elke dag braaidag, maar Saterdag, 24 September, is dit amptelik Nasionale Braaidag. Ons haal die raai uit die braai met vyf van ons top-resepte.

As die weer nie saamspeel nie, kan jy nog steeds 'n heerlike braaihoender in die oond gaarmaak.

Gestopte lamstjops met mentpesto

Ment en lam is ’n wenkombinasie.

menttjops

Genoeg vir 4 mense

Bereiding 20-30 minute

Marineertyd 3-4 uur (opsioneel)

Gaarmaaktyd 10-15 minute

TJOPS

4 lamstjops, 4 cm dik en beentjies skoongemaak

sout en peper

MENTPESTO

250 ml (1 k) mentblaartjies, styf ingepak

80 ml (¹/³ k) koljanderblare

2 knoffelhuisies, gekap

60 ml (¼ k) pampoenpitte

1 suurlemoen se sap en skil

olie

VULSEL

80 ml (¹/³ k) gaar koeskoes

2 droë nektariens en 2 droë dadels, gekap

6 amandels, gekap

45 ml (3 e) koljanderblare, gekap

1. Tjops Sny ’n sakkie in die dik vleisdeel van elke tjop. Geur die tjops met sout en peper en laat 3-4 uur in die kruiemarinade marineer indien verkies.

2. Mentpesto Plaas intussen al die bestanddele vir die pesto in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad. Voeg genoeg olie byom’n loperige pasta te vorm.

3. Vulsel Meng al die bestanddele vir die vulsel. Vul elke tjop daarmee wanneer dit klaar gemarineer het. Steek vas met peuselstokkies. Keep die vetkant van die tjops effens in.

4. Knyp die tjops met ’n braaitang vas en braai hulle eers op die vetrand. Braai dan alkant tot bruin buiteom en net gaar maar steeds effens pienk. Verf met die kruiemarinade indien verkies of anders met net ’n bietjie olie.

5. Sit die tjops saam met die pesto voor.

Eet-met-die-hand-ribbetjies

braaribbetjies

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 15 minute

Staantyd: oornag of 2 uur

Gaarmaaktyd: 1-2 uur

1,5 kg beesribbetjies, in stukke gesny

sout en peper

70 ml tamatiesous

50 ml blatjang

45 ml (3 e) sagte bruinsuiker

30 ml (2 e) worcestersous

1 groot suurlemoen se sap (sowat 60 ml) en skil

pietersielie, gekap

Verhit die oond tot 160 °C en smeer ’n groot oondbak met olie.

1. Geur die rib met sout en peper en rangskik in ’n glasbak.

2. Meng die res van die bestanddele buiten die pietersielie en giet dit oor die ribbetjies. Maak seker die marinade bedek al die kante.

3. Marineer oornag of minstens een uur. Pak die ribbetjies in die voorbereide oondbak en bak sowat ’n uur of tot gaar en tot die sous taai en klewerig is.

4. Verf die ribbetjies met die marinade terwyl dit in die oond bak.

5. Garneer met die vars pietersielie.

6. Sit die ribbetjies voor met kapokaartappels en geroosterde tamaties.

WENKE

1. Maak die ribbetjies so op die ketelbraai gaar: Smeer die rooster liggies met olie. Plaas die ribbetjies so op die rooster dat daar geen kole direk onder die ribbetjies is nie en sit die deksel van die Weber op. Verf die ribbetjie gereeld met die marinade en draai dit gereeld om.

2. Maak Oosterse ribbetjies: Vervang die marinade hierbo met ’n marinade wat bestaan uit 30 ml oestersous, 180 ml sojasous, 125 ml sjerrie, 3 huisies fyn knoffel, 1 stukkie vars gemmer, 2 salotte en 180 ml suiker. Marineer 1-2 uur in die yskas en braai op die kole.

Die speseryagtige mangosous sal jou somerbraai ’n tropiese smaak gee.

braaihoender

Genoeg vir 4-6

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 50 min.

3 mango’s, gekap

2 takkies vars roosmaryn

’n klein hand vol vars grasuie

30 ml (2 e) appelasyn

15 ml (1 e) olie

4 knoffelhuisies, gekap

5 ml (1 t) paprika

sout en vars gemaalde peper

1 kg heel hoender, platgemaak

gebraaide aartappels vir voorsit

Voorverhit die oond tot 200    °C.

  1. Plaas die mango’s, roosmaryn, grasuie, asyn, olie, knoffel, paprika, sout en peper in ’n verwerker en blits tot die bestanddele goed gemeng is.
  2. Bedek die hoender met die helfte van die sous, bedek en verkoel 2 uur. Rooster die hoender ’n driekwartier in ’n roosterpan terwyl jy dit elke kwartier met die oorblywende sous bedruip.
  3. Gooi die oorblywende sous in ’n kastrol oor lae hitte en laat 5 minute prut. Sit die sous voor saam met die hoender en gebraaide aartappels.

Varkribbetjie met blatjangsous

varkrib

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 10 min.

Staantyd: 1 uur of oornag

Gaarmaaktyd: 1-1½ uurMarinade

100 ml olie

250 ml (1 k) matige blatjang

60 ml (¼ k) suurlemoensap

60 ml (¼ k) lemoensap

60 ml (¼ k) worcestersous

10 ml (2 t) heelkorrelmosterd

1 knoffelhuisie, fyn gedruk

Vleis

1 varkribbetjie van 2,5 kg

sout

  1. Marinade Meng al die bestanddele en giet oor die vleis. Laat staan terwyl die kole gereedgemaak word, of oornag indien verkies.
  2. Vleis Geur die ribbetjie met die sout en braai dit 1-1½ uur hoog bo warm kole. Verf gereeld met die marinade.

Botterhoenderkerrie oor die kole

botter-main

Hierdie resep kom uit Jan Braai se tweede resepteboek, Vuurwarm. 

Vir 6 mense

  • ‘n koppie botter (125 g)
  • 1 sopie plantolie
  • 1 ui (fyngekap)
  • 2 huisies knoffel (fyngekap)
  • gemmer (dieselfde volume as die knoffel; gerasper)
  • 1 teelepel rooibrandrissiepoeier
  • 1 teelepel borrie
  • 1,5 kg ontbeende
  • Hoenderdytjies (of borsies, in groot stukke opgesny)
  • 2 teelepels vinkelsaad (of gemaalde vinkel/barishap)
  • 4 kardemompeule (gekneus)
  • 100 g kasjoeneute (1 pakkie; kneus die neute met jou stamper en vysel)
  • 1 blikkie tamatiepuree (so 410 g; moet dit nie verwar met tamatiepasta (dikker en in kleiner blikkies) of met opgekapte tamaties nie)
  • 1 blikkie ingedampte melk (of klappermelk, of dieselfde volume jogurt)
  • 1–2 teelepels sout
  • ’n teelepel swartpeper
  • ’n koppie vars koljanderblare (rofweg opgekap; opsionele garnering)

LAAT WAAI!

  1. Sit die botter en die olie in jou potjie op ‘n medium-warm vuur. Wanneer die botter gesmelt het, voeg jy die uie by. Braai die uie vir ‘n paar minute tot hulle begin sag word, maar nie bruin is nie. Dit lyk dalk na baie botter, maar die dis se naam is immers botterhoender.
  2. Voeg die knoffel, gemmer, rooipeper en borrie by en braai vir 1 minuut.
  3. Nou voeg jy die hoenderstukke by. Braai hulle vir so 5 tot 8 minute (afhangend van hoe warm jou vuur is) tot goudbruin.
  4. Voeg die vinkelsade, kardemompeule en kasjoeneute by, roer deeglik en braai vir nog 1 tot 2 minute.
  5. Gooi die tamatiepuree en ingedampte melk by, kry die mengsel aan die kook en laat
  6. prut vir omtrent 10 minute totdat die sous ongelooflik lekker ruik en die hoender gaar is.
  7. Nou gooi jy ordentlik sout en peper by, roer nog ‘n laaste keer en haal die potjie van die vuur af.
  8. Bedien met rys en garneer met gekapte koljander.

EN …

Die kanse is goed dat jou gaste regtig mal gaan wees oor die kos en jou vra om dit weer te maak vir ‘n spesiale geleentheid soos jou geliefde se verjaardagpartytjie of jou ouma se brugklubjaarvergadering. Vir so ‘n groot geleentheid kan jy almal beïndruk deur ‘n paar kasjoeneute in ‘n warm pan droog te rooster en oor die dis te saai.

Save Save Save