Verander Nasionale Braaidag op Saterdag, 24 September, in 'n onvergeetlike saamkuierdag met geliefdes en vriende. Hier's 'n paar min-moeite-resepte vir bykosse om dit nog meer spesiaal te maak.

Roosterkoek

roosterkoek-main

Lewer 30 roosterkoeke

Bereiding: 30 minute

Gaarmaaktyd: 30-40 minute

10 x 250 ml (10 k) wit- of bruinbroodmeel

2 pakkies (10 g elk) kitsgis

125 ml (½ k) poeiermelk

12 ml (2½ t) sout

60 ml (¼ k) suiker

750 ml (3 k) louwarm water

60 ml (¼ k) margarien

  1. Meng al die droë bestanddele saam. Giet die louwarm water bietjie vir bietjie by tot ’n stywe deeg gevorm is. Knie die margarine by die deeg in.
  2. Vorm in ’n bol, smeer met olie en laat rys tot dubbel die grootte op ’n warm plek.
  3. Knie die deeg af en knyp balletjies af. Rol elke balletjie effens platter met ’n koekroller op ’n meelbestrooide oppervlak.
  4. Laat weer rys. Pak op ’n rooster.
  5. Braai hoog op matige kole.
  6. Draai gereeld en rooster tot dit hol klink as daarop geklop word. Sit voor saam met botter en gouestroop.

WENK

Bak vetkoek van die deeg.

Bier-braaibroodjies

braaibroodjies-main

Franse braaibrood en braaibroodjies in een, gemaak met bierbrood. Maar pleks van die brood in eier doop soos die Franse dit doen, word die eier by die vulsel ingemeng en die broodjies dan oor die kole gerooster.

Lewer 4-6 braaibroodjies

Bereidingstyd: 15 minute

Gaarmaaktyd:

Brood: 40-45 minute

Braaibroodjies: 10-15 minute

BIERBROOD

500 g bruismeel

5 ml (1 t) sout

1 blik (340 ml) bier

1 blik (410 g) pitmielies, gedreineer

’n bietjie sout

VULSEL

200 g gerasperde mozzarellakaas

2 eiergele

60 ml (¼ k) elk gekapte grasuie, basilie en pietersielie

60 ml (¼ k) sondroëtamatiepesto

sout en peper

olie vir smeer

  • Voorverhit die oond tot 180 °C.
  • Spuit ’n broodpannetjie met kossproei.

  1. Bierbrood Meng alles en druk in die broodpan. Bak 40-45 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Keer op ’n
  2. draadrak uit en laat heeltemal afkoel. Sny versigtig in skywe.
  3. Vulsel Meng alles behalwe die pesto en geur met die sout en peper.
  4. Smeer die broodskywe met die pesto, verdeel die vulsel tussen die helfte van die broodjiesnye en maak toebroodjies met die orige snye.
  5. Smeer met die olie en braai op ’n rooster oor matige kole tot die kaas gesmelt en die broodjies goudbruin is. Sit dadelik voor.

Mielies in spekbaadjies

spekmielie

Spek word om die mielies gedraai wat ‘n heerlike kombinasie is. Dit is ook die perfekte bygereg vir ‘n braai.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 min.

Gaarmaaktyd: 15-20 min.

4 vars mielies met blare

45 ml (3 e) vars

kruie van jou keuse (bv. pietersielie, tiemie of basilie), gekap

sout en pas gemaalde swartpeper

30 ml (2 e) olyfolie

250 g streepspek

  1. Verwyder die mielies se baard, maar nie die blare nie.
  2. Meng die kruie, sout, peper en olyfolie en giet oor die mielies.
  3. Draai die spek om die mielies en steek met peuselstokkies vas.
  4. Braai 15-20 min in ’n groenterooster of gewone toeklaprooster op matige kole tot gaar.

Stywepap-en-spekvingers

papspek

Hierdie resep het Johnny Snyman van Seepunt met ons gedeel dit is ‘n heerlike bygereg vir ‘n braai.Genoeg vir sowat 6 mense

Bereiding: 30 minute

Gaarmaaktyd: sowat 40 minute500 ml (2 k) water

10 ml (2 t) sout

400-500 ml mieliemeel

15 spekvleisrepies

peuselstokkies

  1. Bring die water en sout tot kookpunt en voeg die mieliemeel by. Verlaag die hitte en kook tot gaar. Roer elke dan en wan.
  2. Spuit ’n bakplaat met kossproei en skep die gaar pap in die bak, sowat 2-3 cm dik. Druk die pap stewig vas en maak die bokant gelyk.
  3. Laat staan tot stewig en sny in skywe.
  4. Draai ’n spekrepie om elke skyf en steek vas met ’n peuselstokkie.
  5. Braai die vingers op matige kole tot die spek gaar en bros is.

Wenk:

Jy kan ook ’n bakkie tamatie-en-uiesmoor hierby voorsit.

Japtrap-wafel (op die kole!)

jafel-wafel-main

’n Briljante idee vir poeding gemaak met slegs die basiese apparaat: ’n vuur en wafelpan.

Lewer sowat 8-10 wafels

Bereidingstyd: 10 minute

Staantyd: 30 minute

Gaarmaaktyd: 5 minute per wafel

500 ml (2 k) koekmeel

5 ml (1 t) bakpoeier

knippie sout

5 ml (1 t) koeksoda

2 eiers

375-500 ml (1½-2 k) karringmelk

60 ml (¼ k) botter, gesmelt

  1. Sif die droë bestanddele saam in ’n groot bak.
  2. Klits die eiers, karringmelk en botter in ’n beker en voeg by die droë bestanddele. Meng goed tot glad. Laat staan sowat ’n halfuur.
  3. Smeer ’n jafelpan goed met botter, plaas oor matige kole en verhit tot warm.
  4. Giet van die beslag versigtig in die pan tot byna vol, maak toe en plaas terug oor die kole tot die wafels bros en gaar is. Jy sal hulle ’n paar keer moet omdraai.
  5. Verwyder uit die pan en hou die wafels eenkant warm. Herhaal met die res van die beslag.
  6. Sit voor met roomys, sjokoladesous en bessies en koffie om mee af te sluk.
Save Save