Boekwurms soek gereeld na nuwe boeke om te lees, maar iemand anders se leeslys gee jou dalk 'n paar wonderlike idees.

1. Roelof Storm

Die ster van die rolprent Johnny Is Nie Dood Nie gesels oor die boek wat hy nou lees en vertel meer oor een van sy gunstelinge.

“Op die oomblik lees ek ’n Ander Mens deur Zirk van den Berg. Dit word omskep in ’n draaiboek vir ’n film wat ons later vanjaar maak, met Quentin Krog as regisseur."

Hy wei 'n bietjie uit oor een van sy geliefkoosde boeke, Mrs Dalloway deur Virginia Woolf.

“Dit is moeilik om 'n gunsteling te kies, maar ’n boek wat ek gereeld lees en weer lees omdat die karakters al my vriende geword het, is Virginia Woolf se Mrs Dalloway. “

“Michael Cunningham het in 1999 die Pulitzer-fiksieprys vir The Hours gewen. Die boek is geïnspireer deur Mrs. Dalloway en dien as ’n pragtige interteks op Woolf se lewe. Dit is later meesterlik deur David Hare in ’n draaiboek  verwerk vir die ikoniese film met dieselfde titel.”

Boeke boeke boeke... #Boekklub #set

A post shared by Armand Aucamp (@armandaucamp) on

2. ARMAND AUCAMP

“Ons diepste vrees is nie dat ons onvoldoende is nie. Ons diepste vrees is dat ons onmeetbaar magtig is.”

Dit is ’n reël uit Marianne Williamson se Return to Love, die boek wat die sjarmante Armand Aucamp op die oomblik lees.

Armand is veral bekend vir sy rol as Jacques Reynhard in Ballade vir ’n Enkeling en Tom Niemandt in Die Boekklub. Hy is ook een van Afrikaans.com se ambassadeurs.

“Dis ’n spirituele boek waaruit ek dieper kennis kry. Mens put ook soveel insig uit hierdie boek. Dit leer my om liefde te gee en te ontvang asook hoe om situasies in alle aspekte van my lewe te hanteer en aan te pak.

Armand bieg dat hy ook van ligter leesstof hou.

Hy vertel: "Roald Dahl se Mathilda het ek al ’n paar keer gelees oor ek versot is op die donker sin vir humor wat hy in sy boeke openbaar.”

En Armand sê dat Roald Dahl se volwasse kortverhale ook ’n moet-lees is!

Denise Newman. Foto: Facebook

3. DENISE NEWMAN

Denise, wat die rol van die vurige Bridgette October in Suidooster vertolk, sê sy is eintlik maar ’n boekwurm.

“Ek is mal oor lees. Dis vir my baie moeilik om ’n gunsteling-boek te kies, maar ’n skrywer of twee is makliker. Hulle albei skryf stories van mense in Afrika, wat herkenbaar is.  “

Denise praat natuurlik van Bessie Head en Zakes Mda.

“Bessie Head is my gunsteling-skrywer. Haar lewe was hard en moeilik, maar haar stories is altyd eerlik en vol hoop. Een van my gunstelinge onder Bessie se boeke is Maru en ek moet bieg dat ek dit al minstens ses keer gelees het.”

Zakes Mda se Ways of Dying is ook een van die boeke wat dié boekwurm meer as een keer gelees het.

Dana Snyman. Foto: VIA

4. DANA SNYMAN 

Die bekroonde joernalis en skrywer Dana Snyman lees op die oomblik aan drie boeke en moes omtrent rondskarrel om ’n gunsteling te kies. Dana is ook een van Afrikaans.com se ambassadeurs.

“Ek lees rond  en bont, maar is tans besig met Karel Schoeman se Die uur van die Engel. Dis ’n wonderlike boek wat in die 18de eeu afspeel en mens leer oor hoe om die verlede te ondersoek en te vertsaan.”

Dana is ook besig met A.N. Wilson se The book of the people.

Die boek se onderskrif lui “Hoe om die Bybel te lees.”

“Hierdie boek verduidelik oor die stories in die Bybel wat soms as mites afgemaak word. Dis alles waar en hierdie boek bied perspektief om dit beter te verstaan en toe te pas.”

Dana meen dat ’n mens eers ’n leser moet wees voordat jy ’n skrywer kan wees.

“Ek lees meer as wat ek skryf. Die dag as ek meer moet skryf as lees, dan is ek seker onder. Om te lees is vir my soos ’n oefensessie by die gim.”

5. BIBI SLIPPERS

Bibi is ’n joernalis en digter en hou ook haar lyf gasheer op haar program In die Bed met Bibi op VIA. 

Uittogboek, ’n digbundel deur Johan Myburg, is een van haar gunsteling-boeke.

“Uittogboek het pragtige gedigte in wat besin oor die dood, maar só lewendig en vol lewende beelde is. Die taalgebruik is veral inspirerend, en die fyn manier waarop Johan na die wêreld kyk en dit opskryf is besonders. “

Bibi lees ook graag boeke wat die maagspiere ’n bietjie laat oefen.

“Lloyd Zandberg se boek - goeiste, Per ongeluk is die snaaksste boek wat ek in 'n lang tyd gelees het! Jy lag hardop dat die trane loop. Ek het nou al twee eksemplare vir vriende weggegee, want ek wil hê ALMAL moet dit lees. Lloyd is 'n jonger skrywer met 'n baie vars blik op die lewe, en sy taalgebruik is herkenbaar en vrek oulik.”

Sy voeg dan by: “ Lloyd skryf soos 'n jong, hipster-weergawe van Nataniël! Ek is mal oor die geel omslag van sy boek.”

WEN!

Lees jy ook graag? Sommer net vir ontspan of om opvoedkundige redes? Boekwurm, ons het goeie nuus. Drie gelukkige Huisgenoot-lesers kan ’n reeks boeke by Lapa-uitgewers wen!

Jy staan ’n kans om ’n reeks boeke te wen!

Kompetisiereëls, bepalings en voorwaardes: 

Die kompetisie is oop van 17 Julie 2017 tot 30 Julie 2017 om middernag.

Jy mag soveel keer inskryf as wat jy wil.

Personeellede van Media24 en Afrikaans.com, sowel as hul families, mag nie inskryf nie.

Jy moet vraag korrek antwoord om in aanmerking te kom vir die prys.

Wenners sal gekies word deur ’n lukrake trekking.

Wenners sal telefonies in kennis gestel word.

Ons sal drie keer probeer om ’n wenner te kontak, binne kantoorure.

As hy of sy nie bereik kan word met een van die drie oproepe nie, sal ’n nuwe wenner getrek word.

Media24 en die borg van die prys aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade wat mag spruit uit deelname aan die kompetisie nie.

Pryse is nie oordraagbaar nie en kan nie vir kontant of ’n ander prys verruil word nie.

Die borg is verantwoordelik daarvoor om die prys binne ’n redelike tyd te verskaf (vier tot ses weke).

Die kleur van ’n prys kan nie gewaarborg word nie en is onderworpe aan die beskikbaarheid van voorraad.

As jy inskryf vir die kompetisie, aanvaar ons dat jy Media24 toestemming gee om jou soms te kontak met promosies en ander bemarking.