Nuwe weergawes van ou gunsteling-reekse soos Charmed en Murder, She Wrote is waarskynlik op pad, en ons TV-blogger wonder of dit  ’n goeie plan is.

Die spannetjie van Charmed (links) en Angela Lansbury as Jessica Fletcher in Murder, She Wrote.

ELKE keer as ek van nóg ’n ou TV-reeks hoor wat oorgedoen gaan word, kla ek bitterlik en vlug Twitter toe om my lot te gaan bekla by ander mense wat ook ontstig is omdat iemand hul ou gunstelinge wil optert.

Maar die ding is: Al wil ek liewer nuwe programme sien, haat ek uiteindelik nie die oorgedoende oues nie. Die nuwe Dallas was heeltemal vermaaklik, Hawaii Five-O is prettig en dit was lekker dat albei programme vars weergawes van hul ikoniese temaliedjies gehad het. Die nuwe Battlestar Galactica het meer woema gehad en was selfs beter as die oorspronklike reeks uit die 1970’s, terwyl hulle by die ou karakters en hulle koel vloekwoord “frak” gehou het.

[caption id="attachment_58755" align="alignnone" width="600"]Hoofkarakters in die nuwe Dallas. Hoofkarakters in die nuwe Dallas.[/caption]

Maar dan was daar ook die nuwe weergawe van Ironside (gegrond op ’n speurreeks uit die 1960’s) en Charlie’s Angels, wat nie so goed gewerk het nie. Die geheim is om die storie reg te kry, iets wat ’n mens regtig sou dink die makers van hierdie programme sou verstaan.

Nou hoor ek nuwe weergawes van Charmed en Murder, She Wrote is ook op pad. My eerste reaksie was “neeeeee, moenie die herinneringe aan goeie programme bederf nie”. Charmed (die storie van die drie Halliwell-susters wat hekse was en teen booshede baklei het) was veral een van my gunstelinge. Ek was mal, mal oor daardie reeks. Selfs Alyssa Milano, wat een van die susters (Phoebe) gespeel het, het gedink dis ’n slegte plan en getwiet: “Die ding van ’n nuwe Charmed is . . . dit voel net . . . dit voel net soos gister. Dit voel te naby.”

[caption id="attachment_58753" align="alignnone" width="407"]Die spannetjie van Charmed. Die destydse spannetjie van Charmed.[/caption]

Wat natuurlik waar is: Die program was agt seisoene lank en het in 2006 klaargemaak, wat inderdaad net gister is. Maar toe dink ek ’n bietjie daaroor en besef die afgryslike nuwe Charlie’s Angels het nie my herinneringe aan die ou program bederf nie, en die nuwe Battlestar was slim en goed uitgevoer en het gewys hoe nuwe weergawes ordentlik gedoen kan word – hoekom dus nie?

Die netwerk wat die nuwe Charmed beplan, het gesê dit sal ’n reeks wees oor vier hekse wat teen die bose baklei. Goed, dis dus nie so anders nie – as hulle familie is van die ou lotjie van Charmed – miskien niggies van die hekserige susters Piper, Phoene en Prue (wat later deur haar halfsuster Paige vervang is) – en hulle pas by die oorspronklike storielyn in en voer die hele mitologie verder, dan sal ek dit kyk.

Dis min of meer wat Dallas gedoen het deur op die kinders van die oorspronklike karakters te fokus en die ou gunstelinge soos Bobby, JR en Sue-Ellen deel van die storie te maak, en dit werk. Battlestar het die ou reeks oorvertel, maar dit vars en modern gemaak (so slim om die nuwe Starbuck ’n vrou te maak) en nuwe kinkels bygevoeg sodat aanhangers van die ou reeks steeds verras kon word. Maar ek kan nie sien dat daardie soort behandeling vir ’n program soos Charmed sal werk nie omdat dit te onlangs op TV was.

Aan die ander kant is Murder, She Wrote (wat ’n indrukwekkende 12 seisoene lank was, van 1984 tot 1996) eintlik maklik, want mense hou van ’n goeie misdaadstorie en dis presies wat MSW was: moord en doodslag op ’n klein dorpie in Maine. Dit was nie ’n nuwe storie nie aangesien die karakter van die misdaadskrywer Jessica Fletcher taamlik duidelik gegrond was op Agatha Christie se Miss Marple, maar die legendariese aktrise Angela Lansbury het die rol werklik haar eie gemaak.

[caption id="attachment_58757" align="alignnone" width="330"]Angela Lansbury as Jessica Fletcher. Angela Lansbury as Jessica Fletcher.[/caption]

Nadat ek dus aanvanklik gedink het dis ’n slegte plan, het ek potensiaal begin sien toe die vervaardigers aankondig dat The Help se Oscar-bekroonde aktrise Octavia Spencer die hoofrol gaan speel.

[caption id="attachment_58759" align="alignnone" width="500"]Octavia Spencer in The Help. Octavia Spencer in The Help.[/caption]

Volgens deadline.com is dit ’n ligte, eietydse speurreeks in die trant van Bones of Fargo. Dit gaan oor ’n hospitaaladministrateur en amateurspeurder (Octavia) wat haar eerste speurroman self uitgee. Haar gretige aangetrokkenheid tot ware misdaad lei daartoe dat sy ’n aktiewe deelnemer aan die ondersoeke word. En daar’s praatjies dat Angela (sy is nou 88 jaar oud!) ook ’n soort rol gaan speel. Nou weet ons almal daar kan net een Jessica Fletcher wees, maar hierdie idee het potensiaal.

Natuurlik beteken die feit dat opdrag gegee is vir ’n draaiboek of loodsepisode nie dat dit ’n TV-reeks gaan word nie, maar ek hoop regtig hierdie twee kom daarby uit, veral Murder, She Wrote. Ek hoop net hulle volg die voorbeeld wat Dallas en Hawaii Five-O gestel het en hou die mooi temaliedjies van albei reekse. Onthou jy dit nog?

Gaan luister gerus na Charmed so titelopening en temaliedjie:

En hier's die temaliedjie van Murder, She Wrote:

- Natalie Cavernelis

Natalie Cavernelis Natalie Cavernelis is blogredakteur en eindredakteur: handelsmerkuitbreidings by Huisgenoot se sustertydskrif, YOU.  Sy is ’n oudredakteur van die TV-tydskrif TV Plus, is verslaaf aan haar gesin, TV, fliek en lees, en het ’n spesiale belangstelling in die populêre kultuur. Sy skryf ook omtrent al ons boekvraat-blogs oor Engelse boeke. Volg haar op twitter @NatalieCav.