IS EK die enigste een . . . wat nie wil hê Junior in Under the Dome moet een van die magiese viermanskap wees wat met die koepel kan “praat” nie? Ek hou albei duime vas dat hierdie bonatuurlike koepel ’n bietjie meer oordeel aan die dag sal lê en die irriterende mannetjie sal ignoreer. Dis al erg genoeg dat die koepel met die kermende, groot-oog Angie kommunikeer. Nee, hierdie twee is nie werd om van die raaiselagtige pienk sterre te weet nie. Die koepel moet regtig ’n bietjie gaan nadink oor wie spesiale voorkeur kry.

Ek is mal oor die reeks en die vinnige pas waarteen dit beweeg. Daar is net eenvoudig te veel dinge wat ’n mens krap. Hier is ’n paar wat ek nie uit my kop kan kry nie.

Max en die gevegklub

Barbie and Maxfight club

Wat op dees aarde is die punt van die nuwe skurk Max en haar bisarre sluikhandel-gevegklub. Regtig? Ek sluk swaar aan die dorpenaars se gewilligheid om deel te neem en weddenskappe te plaas, terwyl hulle eintlik net hul koppe moes skud en Tyler Durden, ekskuus, Max, moes uitlag. Kom nou, hulle móét tog meer besorg wees oor die koepel en hoe hulle gaan oorleef as oor ’n simpel bakleiery waar mense weddenskappe plaas. Dis vreemd dat net die tieners en die verslaggewer Julia (met haar perfekte haarstyl) bekommerd is oor die koepel.

Maxine (gespeel deur Natalie Zea) het nie heeltemal in die storielyn ingepas nie en was ’n groot pyn. Behalwe haar afpersery van Barbie en die feit dat sy voorgee sy ken almal, was sy eintlik net ’n reuse irritasie. Die aktrise, wat wonderlik is as Winona in Justified, se vermoëns word vermors in hierdie simpel rol. En toe, in ’n oogknip, is sy en haar ma weg.

Urrggg, Linda

THE FIRE

Die hopelose Linda (gespeel deur Natalie Martinez) kry ’n ereplek op my lys van irritasies. Watter wetstoepassing doen sy nou eintlik in Chester’s Mill? “Jy is die sheriff – tree so op, vroumens!” gil ek meermale voor die TV. Barbie moes haar van episode 1 orde help handhaaf, en noudat Big Jim beweer Barbie is ’n boef, is sy reg om die handboeie uit te pluk en Barbie aan haar ore op te hang. Sy moet vir ’n slag ’n bietjie ruggraat kry en minder nonsies vat. Maar in plaas daarvan lyk dit of Big Jim se skoothond al hoe meer uit haar diepte is. Die ander mense onder die koepel begin skepties raak oor Big Jim, maar simpel Linda vreet steeds alles wat hy sê vir soetkoek op. Sies! Maar dalk het sy volgende jaar, in seisoen twee, meer murg in haar pype. Die aktrise het aan Hollywood Reporter gesê: “Sy [Linda] gaan haar eie instinkte leer vertrou en haar eie kop begin volg oor wat sy dink waar is. Onder die koepel kan jy net op jouself staatmaak.” Ek sal so dink!

Junior en die koepel

Junior and Angie

Terug na Junior en sy plek in die viermanskap. In die eerste plek, dit is vreemd hoe Angie nie kan besluit of sy Junior vergewe nadat hy haar aangehou het, en of sy op hom wil gil omdat hy dit gedoen het nie. Maar goed, Junior lyk net so verward: Die een oomblik glo hy sy pa se leuens en die volgende oomblik rig hy ’n vuurwapen op hom. Ek voel byna jammer vir hom nadat die koepel verklaar het dat Big Jim moet sterf. Toe die viermanskap aan die einde van die vorige episode aan die koepel kon raak, het ek vir ’n oomblik gedink die koepel is net so keelvol vir hom en gaan hom aan die ander kant uitspoeg. Maar die hoop het beskaam.

Dis egter onwaarskynlik dat Big Jim gaan aftjop, want ons het ’n skurk nodig vir seisoen twee. Miskien kan hulle Linda opoffer. Dan kan die dorp vir Barbie as sheriff aanwys. Ek hoop al die lawwigheid word in die slot-episode uitgeklaar. En so terloops, ons word môre weer bederf met twee episodes!

Under the Dome word op Dinsdae om 20:05 op M-Net uitgesaai en eindig vandeesweek met nog ’n dubbel-episode (episode 12 en 13). Volgende week (8 Oktober) begin Hostages in dieselfde tydgleuf. Hierin speel Toni Collette ’n chirurg wie se gesin gyselaar gehou word in die week voor sy op die Amerikaanse president moet opereer.

Natalie Cavernelis-Natalie Cavernelis

Volg Natalie op twitter @NatalieCav