Elke jaar op 12 Augustus vereer die wêreld die magtige olifant op Wêreld-olifantdag. Dit is die eerste keer in 2012 gehou en was die slim idee van die Kanadese dokumentêre rolprentmaker Patricia Sims en die Olifant-herinvoerstigting (Elephant Reintroduction Foundation) van Thailand.

Die dag word ingespan om wêreldwyd bewusmaking te skep oor die bewaring van veral wilde olifante wat toenemend bedreig word deur stropers wat die diere plattrek vir hul waardevolle ivoor.

Daar word geraam dat daar so min as 400?000 Afrika-olifante in die natuur oor is en minder as 40?000 Asiatiese olifante.

Om hierdie besonderse dag te vier, het ons dit goed gedink om vyftien fassinerende feite oor olifante saam te stel; feite wat jy waarskynlik nie geweet het nie:

  1. ’n Olifant se slurp en tande verklap of die dier links- of regshandig is. Die een kant van die slurp sal groen wees as gevolg van die blare wat met daardie kant van die slurp gepluk word, en dieselfde kant se tand sal altyd korter wees as die ander een omdat dit meet gebruik word om byvoorbeeld bas van bome af te trek.
  2. ’n Olifant se stert en sy slurp kom in die middel van sy lyf bymekaar. Daar is dus geen deel van sy lyf wat ’n olifant nie met óf sy slurp óf sy stert kan bykom nie.
  3. As jy die omtrek van ’n olifant se voorste voetspoor meet, dit met twee maal, kry jy die olifant se skouerhoogte.
  4. ’n Olifant se reuksintuig is 14 keer sterker as dié van ’n hond.
  5. Olifante kan tot op ’n afstand van 8 kilometer met mekaar kommunikeer deur middel van subsoniese klanke.
  6. Die beskeie miskruier en ’n magtige olifant is totaal afhanklik van mekaar; die een kan nie sonder die ander oorleef nie.
  7. ’n Mamma olifant is dragtig vir 22 maande en borsvoed daarna haar kleinding vir nog 24 maande.
  8. Nes mense room aan hul lywe smeer, besmeer olifante hulself met modder om hul vel te bevog.
  9. Wanneer daar ’n baba olifantjie in die trop is, sal al die volwasse olifante saamstaan om die kleintjie te beskerm.
  10. Olifante het ’n spesiale sakkie in hul monde waarin hul water stoor. Hierdie water word dan op warm dae deur die dier agter sy ore gespuit as lafenis teen die hitte.
  11. ’n Olifant kan al 120 liter bloed in sy liggaam in net 20 minute deur sy ore sirkuleer. Dit help om sy liggaamstemperatuur op kookwarm dae met tot 9 grade te verkoel.
  12. Deur die loop van sy leeftyd het ’n olifant net ses pare tande. Wanneer die dier oud word, val die tande uit en dan sterf baie olifante weens hongerte.
  13. Omdat olifante so swaar is, is hul bene solied en sonder beenmurg soos wat by meeste ander spesies gevind word.
  14. As jy mooi kyk sal jy sien olifante loop eintlik op hul tone. Die vetlaag onder hul voet maak dit die gemaklikste posisie vir hulle om in te loop.
  15. Olifante het ’n spesiale klier wat ’n vloeistof afskei wat verklap as hy of sy in ’n emisionele toestand verkeer. ’n Loperige vloeistof beteken die dier is opgewonde of gelukkig, terwyl ’n dkker vloeistof op ongelukkigheid en agressie kan dui.

AWE Baby Zambezi 05

Vir meer inligting oor die bewaring van olifante en om te leer hoe jy betrokke kan raak, besoek gerus die Adventures with Elephants webwerf.