Tot siens, Barbie se Ken met sy slanke plastieklyf, gespierde bors; plat magie en ontwerpersklere. Tata, aksiefigure met bultende spiere en aggressiewe uitdrukkings op hul klein gesiggies.

[caption id="attachment_120032" align="alignnone" width="600"]Nuwe manspoppe met 'n plomper lyf is onlangs bekendgestel, Foto: Facebook Nuwe manspoppe met 'n plomper lyf is onlangs bekendgestel, Foto: Facebook [/caption]

Meisies en seuns kan dalk eersdaags met die “Boy Lammily” met sy plomper “pappa-lyf” speel. Want seuns, net soos meisies, kan obsessies met hul lyf ontwikkel.

“Ek dink mans voel ook onder druk omdat hulle nie lank genoeg is nie en nie genoeg hare of spiere het nie,” verduidelik Nickolay Lamm, ontwerper van die nuwe manspop.

“Ek dink dis goed waaroor min mense praat omdat daar dikwels van mans verwag word om nie bekommerd te wees oor voorkoms nie en omdat vroue skoonheidstandaarde op ’n ander vlak ervaar,” voeg hy by.

Twee jaar gelede het Nickolay, ’n Amerikaanse grafiese ontwerper en navorser, sy Lammily-poppe, ook bekend as die “Normale Barbies” bekendgestel as teenvoeter vir onrealistiese standaarde van wat mooi is aan ’n vrou.

[caption id="attachment_120033" align="alignnone" width="600"]Kenners meen die nuwe, plomper, manspop is 'n meer realistiese weergawe van mans se lyf. Foto: Facebook Kenners meen die nuwe, plomper, manspop is 'n meer realistiese weergawe van mans se lyf. Foto: Facebook[/caption]

Sy poppe het meer realistiese proporsies soos groter bobene en die gemiddelde borsmaat van 19-jariges. Onlangs het opvoedkundige bybehore soos pamflette oor menstruasie bygekom en ook plakkers waarmee kinders puisies, rekmerke, selluliet en muskietbyte op hul poppies kan plak.

Die “Boy Lammily” se mates en liggaamsmassa-indeks is verkry van die gemiddeldes van Amerikaanse mans tussen 19 en 24 jaar, wat deur die land se sentrums vir siektebeheer en voorkoming verskaf is.

Op die oomblik is die manspop net ’n digitale prototipe, maar met skarefinansiering (lammily.tilt.com/real-is-beautiful) hoop Nickolay om die poppe so gou moontlik op die rakke te kry. Elke pop sal ’n storie hê oor wat hy doen en wie hy is en kinders kan self vir die pop ’n naam kies.

Hierdie nuus oor dié manspoppe kom kort op die hakke van Mattel se aankondiging dat Barbie nou in verskillende liggaamsoorte beskikbaar gaan wees.

[caption id="attachment_120034" align="alignnone" width="600"]tgdtg “Ouens met die pappa-lyf is nie oorgewig nie, maar hulle spog ook nie met gekerfde maagspiere nie," meen kenners. Foto: Facebook [/caption]

Die “pappa-lyf” is gebore uit die Amerikaanse universiteitstudent Mackenzie Pearson se blog-inskrywing waarin sy skryf: “Indien jy dit misgekyk het, meisies is gek na die 'pappa-lyf'. Mans oral kan juig, want om ná werk ’n paar biere af te sluk pleks van in die gim te swoeg, tel deesdae in hul guns. Terwyl ons almal erken ’n gespierde lyf is begeerlik, is daar eenvoudig iets omtrent ’n pappa-lyf wat dit meer menslik, natuurlik en aantreklik maak.

“Ouens met die pappa-lyf is nie oorgewig nie, maar hulle spog ook nie met gekerfde maagspiere nie.

“Boonop hoef jy nie onder druk te voel om altyd op jou beste te lyk nie; ’n pokkel is lekkerder om saans vas te hou en is dit meer pret om kos saam met iemand te kan geniet.”

Bekende pappa-lywe is akteurs soos Leonardo DiCaprio, Alec Baldwin en Val Kilmer, Pierce Brosnan en Bill Murray.

“Die algemeenste liggaamsbou onder mans is die appelvorm," sê die Kaapstadse dieetkundige Deborah Talbot.

[caption id="attachment_120035" align="alignnone" width="601"]ffg Kenners meen seuns sal dalk beter voel oor hul eie voorkoms as hulle met hierdie pop speel. Foto: Facebook[/caption]

“Die feit van die saak is, dis moeiliker om jou vietse liggaamsbou te behou wanneer jy ouer raak,” sê die Pretoriase berader dr. Gary Elliott. “Nes die media druk op vroue plaas om ewig jonk te bly, sukkel mans ook met selfaanvaarding.”

"Hierdie poppe is ’n noodsaaklike stap om die mite dat ’n perfekte blokkiesmaag en bultende spiere die internasionale norm is, uit die weg te ruim. Dit gee kinders ’n beter indruk van wat ’n normale – sal ek waag om te sê gesonde – liggaamsbou is," voeg Gary by.

’n Manlike pop met ’n bietjie meer om die lyf waarmee meisies speel en daarom koester, kan seuns dalk beter laat voel oor hul “normale” lyf.

– Pieter van Zyl

BRONNE: NICKOLAYLAMM.COM, HUFFINGTONPOST.COM, EONLINE.COM, TODAY.COM, STUFF.CO.ZA, PEOPLE, OK! MAGAZINE, BANG SHOWBIZ, DAILY MAIL

Lees ook op Huisgenoot.com:

Nuwe inligting oor vermeende ‘Rhodes-verkragter’ bekend

Huisgenoot-joernalis vertel die storie van die barmhartige Samaritaan wat sy verlore beursie terugbesorg het

Vrou praat oor jarelange gewigstryd en hoe sy eindelik 40 kg verloor het – ‘ek sou net eet en eet en eet’

Só vermy jy kaartmisdadigers se skelmstreke

Rokers let op! Hier is waarom jy vandag nog jou laaste dampie moet slaan

Wayde van Niekerk hardloop blitsvinnig die geskiedenisboeke in

Pragfoto’s: Kyk hoe skitter SA se eie Candice Abrahams as Mev. Wêreld!