Kry jy ook soms in spanningsvolle tye op kantoor lus om alles te verkoop, en jou goed te vat en ’n nuwe begin op ’n idilliese plek soos Toskane te maak? In my agterkop is ek altyd êrens op reis, al sit my agterent stewig op kantoor, en verslind ek daarom boeke soos Under The Tuscan Sun (1996) en A Thousand Days in Tuscany (2005).

Todo in Tuscany (uitgegee deur Hodder, 2012) is ’n boek in daardie styl, maar met ’n verskil: ’n hond! Die Britte Louise Badger en Lawrence Kershaw kyk in 2006 die eindstryd van die Wêreldbeker-sokkertoernooi (die jaar dat Italië gewen het) op ’n grootskerm op ’n plein in Florence, en besluit hulle wil deel word van dié kultuur.

Wanneer hulle na eiendom begin kyk, raak hulle verlief op ’n huis genaamd Poggiolino op die piepklein dorpie San Francesco di Compito, ’n Toskaanse gehuggie naby die dorp Lucca. Die huis kom egter met een voorwaarde: As jy die huis koop, kry jy die bejaarde hond op die erf daarmee saam. Want Todo, ’n basterbrak met ’n breë glimlag, sit ná die dood van sy eienaar al twee jaar lank geduldig en wag vir die koms van nuwe inwoners. Ander eienaars was bereid om hom in hul sorg te neem, maar Todo verseg om ’n poot te versit van sy geliefde Poggiolino.

Louise en Lawrence ervaar soortgelyke aanpassingsprobleme as in verhale soos Under the Tuscan Sun: probleme met die bouers, die taal, die infrastruktuur (hulle sukkel maande lank om ’n telefoon- en internetlyn te kry wat broodnodig is vir hul besigheid), die burokrasie, die lelike plakpapier op die mure . . . maar Todo bewys hy is ’n hartedief wat vir hulle deure in die gemeenskap oopmaak en hulle help om hul voete in ’n nuwe land en kultuur te vind. ’n Hond maak inderdaad van ’n huis ’n tuiste!

Todo in Tuscany is roerend geskryf en een van die aangrypendste boeke wat ek in ’n lang tyd gelees het. Spoiler alert: Ek het ’n paar snesies nodig gehad.

As jy van Todo in Tuscany hou, sal ek ook Isabella Dusi se Vanilla Beans and Brodo (2002) sterk aanbeveel. Isabella en haar man is weer Amerikaners wat sak en pak na Toskane vertrek, en hulle op die dorpie Montalcino vestig. (Toevallig nie ver van Lucca af nie.) Geen van die ander boeke gee vir jou so ’n gedetailleerde blik op die eiesoortige (en soms vreemde) Toskaanse kultuur nie. Gedink alle Italianers is versot op pasta en pizza? Nie so nie! Vanilla Beans and Brodo sal jou iets laat beleef van die Italianers se geweldige streeksgebondenheid en soms pynlike tradisievastheid. Ek, wat dikwels geïrriteerd raak met Suid-Afrikaners se provinsialisme, kon plek-plek net my oë rol vir die Italianers. ’n Lekker boek!

- Gerda Engelbrecht

Gerda Engelbrecht is 'n subredakteur vir Huisgenoot en 'n selferkende leesslaaf.