AS ’N jong joernalis was dit vir my wonderlik – en vreesaanjaend – om Tim Butcher, die Engels-onnie van MySchool  Dream School, te ontmoet.

Hier was ’n man wat vir The Daily Telegraph geskryf het, een van die wêreld se mees gerespekteerde koerante. Hy het as oorlogkorrespondent in al die uithoeke van die wêreld gewerk en het al twee ongelooflike boeke geskryf, Blood River en Chasing the Devil. Ek het Blood River gelees terwyl ek op universiteit besig was om Joseph Conrad se Heart of Darkness, wat vir ons voorgeskryf was, te lees.

Hy is tops in sy veld, ’n veld waarin ek nog maar ’n uilskuiken is. En hier moet ek ’n onderhoud met hom voer!

Daar sit ons toe, een van die wêreld se mees gerespekteerde joernaliste en ek, in ’n leë klaskamer by St Cyprians-skool in Kaapstad. Ek stamel deur ’n lys vrae wat ek aan al die ander onderwysers gevra het vir ’n artikel wat verlede maand in Huisgenoot verskyn het. Hy is vriendelik, hoewel dit lyk of ek hom effens amuseer.

Agterna sit ek (effe verleë) agter in die klas wat hy aanbied oor die krag van woorde, wat op episode 4 gewys word. Maar my verleentheid het vinnig verdwyn terwyl ek luister na hoe Tim Butcher klasgee.

Dit moes baie frustrerend wees vir Tim om ’n lesing aan te bied vir ’n klas vol buierige tieners wat by hul tafels aan die slaap wil raak en waarskynlik die minute aftel tot hulle met hul iPads herenig kon word. Dit het dalk nie so gelyk nie, maar ek weet daar was minstens ’n paar kinders wat deur sy praatjie geraak is. Miskien veral Monique, Thandeka, en Simphiwe. En daar was nog ’n student by wie hy ’n deurbraak gemaak het: Ek het agter een van die kameras weggekruip, maar ek het aan sy lippe gehang.

“Woorde is soos water,” sê hy vir ons. “ ’n Klein druppeltjie op sy eie maak nie so ’n groot verskil nie, maar dit is een van die grootste magte in die wêreld. Dit kan berge vorm en landskappe verander.”

Dit was net wat ek nodig gehad het om my te inspireer om die nag deur te werk aan een van die talle Dream School-artikels wat ek moes skryf.

Ek weet die hele punt van die reeks was om hierdie tieners te inspireer om weer in te spring en hoop te kry vir hul skoolwerk, om hulle te wys hoe wonderlik dit kan wees om die krag van opvoeding aan te gryp. Ek hoop dus nie iemand gee om dat ek ook ’n bietjie inspirasie huis toe geneem het nie . . .

Dankie, Tim.

-       Kirsten Buick

Die Huisgenoot-skrywer Kirstin Buick was op die stel van Dream School en kon op ’n afstand kyk na alles wat aangaan. Bly op die hoogte met haar weeklikse blog vir eksklusiewe agter-die-skerms-inligting.

Kyk elke Sondag om 17:00 na MySchool Dream School op M-Net, M-Net HD, Mzanzi Magic en M-Net Series.

Lees meer: www.dreamschool.co.za