Main

DÊMMIT! Ek haat dit as die eerste episode van ’n nuwe TV-reeks waarna ek uitgesien het, my in die steek laat (*diep sug*). En die reeks het vir Blair Underwood in, so ek wou regtig, regtig daarvan gehou het. Ek was baie bly om Blair terug op TV te hê (Vrydagaande op M-Net) en ek hou tog so van ’n goeie polisiedrama; die kombinasie het dus heerlik gelyk.

Maar 10 minute ná die begin van Ironside, waarin Blair ’n geharde paraplegiese polisieman met die naam Robert Ironside speel, was ek verveeld; dit het nie eens soos ’n gewone TV-misdaaddrama gevoel nie. Vyf minute later moes ek die opname terugspeel want my gedagtes het begin dwaal na die wasgoed wat nog gedoen moes word.

Nog 10 minute, en ek het weer fokus verloor toe ek my foon nader trek omdat ek begin wonder het wie die ander akteurs in die reeks is. Dit blyk toe een van Blair se kollegas is Pablo Schreiber, halfbroer van Liev Schreiber, ster van die reeks Ray Donovan. Toe wens ek ek is liewer besig om na Ray Donovan te kyk.

Nog vyf minute, en ek het nie meer omgegee oor die lawwe storie of oor hoe sy karakter in die rystoel beland het nie. Die enigste ding wat my laat aanhou kyk het, was die hoop dat iets my sou boei, maar helaas was die enigste stukkie lekkerte die nuttelose skote van Blair wat al swetende gewigte optel terwyl oorverdowende musiek in die agtergrond blêr. Nie eens die gedagte aan ’n weeklikse dosis Blair is genoeg rede om my weer te laat kyk nie. Dis ’n lek teen die muur.

Voor ’n episode van Ironside nog in Amerika uitgesaai is, was die reeks klaar in die pekel omdat ’n paraplegiese akteur nie die rol van ’n paraplegiese polisieman gekry het nie, maar dit blyk toe die vervaardigers wou terugflitse wys van die karakter wat rondhardloop voor hy in die rystoel beland het. En ongelukkig is dit juis daardie terugflitse wat besonder irriterend was. Ek het gehoop die teenwoordigheid van Blair sou die rol red, maar nee – hy probeer sy bes, maar hy het ’n beter draaiboek nodig. Ek bedoel, onthou enigiemand wat die eerste episode gekyk het waaroor die ondersoek eintlik gegaan het?

Amerikaners is ná twee episodes nie juis mal oor die reeks nie en dit lyk of dit gekanselleer gaan word. Ten minste het dit beter gevaar as Jany Lynch van Glee se animasiereeks Murder Police, wat gekanselleer is nog voor dit uitgesaai is!

Ek het ook moed opgegee met Camp, Rachel Griffiths se nuwe reeks wat onlangs op M-Net Series Showcase begin het. Dis net só verspot dat ek hulle nie in my lewe wil hê nie.

Die ding is dat die meeste van ons nie meer tyd het om te wag dat ’n TV-reeks beter word nie. Ek gun ’n nuwe reeks een episode om my te beïndruk en as dit nie gebeur nie, soek ek iets anders. My PVR is amper permanent 90 persent vol soos ek probeer om my weg te baan deur reekse waarvan ek hou, maar waarby ek nie uitkom nie. En ek moet nog seisoen twee van Once Upon a Time inhaal voor seisoen drie hier aankom; ek is ook agter met Downtown Abbey en Sons of Anarchy, so ek kan nie opneemplek mors met middelmatige reekse nie. Af en toe, om plek vir my reekse te maak, vee ek “per ongeluk” iets uit wat my man sweer hy gaan “beslis eendag kyk”, en steeds haak die PVR hier by 90 persent vas.

Maar ek hou van die nuwe reeks Hostages Dinsdagaande op M-Net, en DStv het tonne nuwe reekse wat op pad is. So jammer, Ironside, ek kan nie hier rondhang om te kyk of jy beter word nie.

[caption id="attachment_56075" align="alignnone" width="480"]Dr. Ellen Sanders (Toni Collette) and Duncan Carlisle (Dylan McDermott) in Hostages. Dr. Ellen Sanders (Toni Collette) en Duncan Carlisle (Dylan McDermott) in Hostages.[/caption]

- Natalie Cavernelis

Natalie Cavernelis Natalie Cavernelis is blogredakteur en eindredakteur: handelsmerkuitbreidings by Huisgenoot se sustertydskrif, YOU.  Sy is ’n oudredakteur van die TV-tydskrif TV Plus, is verslaaf aan haar gesin, TV, fliek en lees, en het ’n spesiale belangstelling in die populêre kultuur. Sy skryf ook omtrent al ons boekvraat-blogs oor Engelse boeke. Volg haar op twitter @NatalieCav.