Bio-rolprent.

Met Josh Brolin, James Cromwell, Richard Dreyfuss en Ellen Burstyn.

Regie: Oliver Stone.

2009. 124 min.

13GT.

Ons dink: 3/5

Die titel – die voormalige Amerikaanse presidentGeorge W. Bush se middelste voorletter, wat gewoonlik met ’n swaar Texas-aksent tot Dubya vereenvoudig word – skep dalk die indruk dat die rolprent ’n bespotting gaan maak van een van Amerika se mees gekritiseerde leiers.

Maar die regisseur Oliver Stone (JFK, Nixon, Alexander, Platoon) beeld Bush jr. verrassend simpatiek uit as die swartskaap van die gesin wat in die skadu van sy politikusbroer Jeb geleef het.

Dubya het as student kwaai gedrink en onderpresteer en sy magtige pa moes hom telkens uit die tronk kry.

Hy het ’n wedergebore Christen geword, ophou drink en is teen alle waarskynlikheid in tot goewerneur van Texas verkies – ’n trappie op na die Withuis waar hy die omstrede besluit geneem het om Irak binne te val.

W. beskryf van die laagtepunte van ’n onmerkwaardige president. Waarom dan ’n fliek oor hom maak? Maar juis daarom sal geskiedenisliefhebbers dit interessant vind.