ASHLEY MADEKWE, NICK WECHSLER, CONNOR PAOLO, GABRIEL MANN, EMILY VANCAMP, CHRISTA B. ALLEN, MADELEINE STOWE, JOSH BOWMAN, HENRY CZERNY

HOERA! Ons gaan einde vandeesmaand terug Hamptons toe om te kyk watter nuwe donker dade Emily en haar vriende – en vyande –  in seisoen drie van die drama Revenge opdroom. Seisoen twee was nie eintlik aardskuddend nie. Dit het net te deurmekaar begin raak, maar ek het vasgebyt omdat ek teen daardie tyd al te diep ingesuig was deur die fassinerende wêreld van mense wat dik van die geld en die wraakgevoelens is. Ek het op Twitter gaan kyk wat Amerikaners dink wat al ’n paar episodes van die nuwe reeks agter die rug het, en volgens hulle is seisoen drie ’n enorme verbetering ná seisoen twee. Ek gaan dit dus beslis kyk – ag, wat sê ek, ek was in elk geval nooit van plan om dit mis te loop nie . . . Revenge is Donderdag 28 November terug. Onderaan hierdie blog noem ek nog ’n paar reekse wat ook in November en Desember terugkeer, soos Modern Family en Grey’s (lg. het eintlik al gisteraand afgeskop), maar vandeesweek wil ek op vier splinternuwe reekse konsentreer – veral die een waarna ek al baie lank uitsien: Marvel’s Agents of S.H.I.E.L.D.

Vier spiksplinternuwe reekse

Marvel’s Agents of S.H.I.E.L.D seisoen 1

Woensdag 4 Desember, M-Net, 20:30

agents of shield

Dis uiteindelik hier, en dis die program waarop ek al maande wag. Ek is met ’n superheld-fanatikus getroud en dit raak tog deel van ’n mens se wêreld, selfs al maak jy soms net of jy luister as hy van al die nuutste ontwikkeling in die strokiesboekwêreld vertel.

Ek het dus ál die superheld-flieks gesien, was gaande oor The Avengers en hou van Agent Coulson, die ou wat heeltyd pak dra. Ek was regtig baie ontsteld dat hulle hom in die fliek laat doodgaan het, en daarom is dit ’n verligting om te sien hy leef weer en het boonop sy eie TV-reeks gekry.

Hoekom het hy uit die dood verrys? Wel, dit is een van die geheime wat in die reeks opgelos word – al wat ons nog weet is dat hy Tahiti toe was en dat dit ’n “betowerende plek” is.

Die TV-reeks speel af in dieselfde heelal as die flieks (daar is trouens later ’n episode waar die span ’n probleem moet hanteer wat te doen het met Thor: the Dark World, wat verlede week in SA bioskope begin draai het). Die Avengers het die wêreld gered en nou het Coulson sy eie S.H.I.E.L.D-span wat vanuit ’n baie luukse vliegtuig werk en die wêreld vol reis om vreemde gebeurtenisse te ondersoek. In sy span is daar die tawwe kuiltjieken-agent Grant; die geheimsinnige vlieënier Melinda; en twee aweregse, briljante jong mense – Leon, ’n ingenieur, en Jemma, ’n biokinetikus. Die kuberkraker Skye verskyn ook in die eerste episode, maar sy is nie ’n lid van S.H.I.E.L.D nie.

Dis lekker om weer ’n TV-reeks te hê deur Joss Whedon, die man agter Buffy, Angel en Firefly! Kyk die lokprent hier.

Ravenswood

Donderdag 5 Desember, M-Net Series Showcase,18:00

ravenswood4

Dis ’n afsplintering van die reeks Pretty Little Liars en volg vir Caleb Rivers (Tyler Blackburn), die liar Hanna se kêrel. Hy verlaat hul dorp, Rosewood, om ’n meisie, Miranda, te help – sy is op pad Ravenswood toe om haar oom op te spoor. Hulle vind albei grafstene met hul name daarop en raak betrokke by die dorp se dodelike vloek wat vyf tieners aantas. Ek het baie kommentaar gesien oor hoe die eerste episode mense laat ril het; dis duidelik baie donkerder as die moederreeks. Kyk die lokprent hier.

Brooklyn Nine-Nine

Maandag 2 Desember,Vuzu,19:00

brooklyn 9-9

Dis ’n komedie oor ’n speurder wat baie onvolwasse maar steeds baie suksesvol is, en hy moet sy taktiek aanpas wanneer ’n streng nuwe baas weier om sy kinderagtighede te aanvaar. Andy Samberg van Saturday Night Live speel Jake Peralta, die kinderagtige polisieman, en Andre Braugher, wat onlangs in Last Resort te sien was, is die kwaai nuwe baas.

Dis vervaardig deur die mense wat die verskriklik snaakse Parks and Recreation gemaak het en dus is ek baie hoopvol. Maar daar is seker ook ’n kans dat die reeks te ver gaan en verspot word.  Ek het tog gegiggel vir die lokprent: Jake en sy polisiespanmaat wys vir ’n moontlike getuie die foto van ’n potensiële verdagte om uit te vind wie dit is, en dan bedank die getuie hulle en hou die foto!  Kyk die lokprent hier.

Trophy Wife

Dinsdag10 Desember, Vuzu, 19:00

trophy wife 1 Ek hou van wat ek van Trophy Wife gehoor het; dit klink na pret en het ’n sterk rolverdeling. Ek gaan die eerste episode kyk om te besluit of dit ’n plekkie verdien op my lysie moetkyk-reekse. Malin Ackerman (nóg ’n aktrise wat die rolprentwêreld verruil vir TV en sy koel jong akteurs)  is Kate, ’n voormalige partytjiemeisie wat nou die trophy wife van die titel is. Sy trou met Pete (The West Wing se Bradley Whitford), wat die man van haar drome kan wees, maar hy word vergesel van twee eksvroue en drie kinders. Sy formidabele dokter-eksvrou word deur die Oscar-bekroonde Marcia Gay Harden gespeel (sy ander eks is ’n eksentrieke hippie). Maar is dit snaaks? Wel, die eerste episode behels die trophy wife wat die tienerdogter se guns probeer wen deur skuld te aanvaar vir die alkohol wat die dogter skool toe neem. Uiteindelik drink sy dit self en raak geswaai, en eksvrou No. 1 moet haar huis toe neem. Dit moet tog snaaks wees, of hoe? Kyk die lokprent hier.

Reekse wat met nuwe seisoene terugkeer

[caption id="attachment_59590" align="alignnone" width="600"]American Horror Story American Horror Story[/caption]

  • Grey’s Anatomy seisoen 5: Dit het gisteraand begin. Maandae, M-Net, 19:30
  • Modern Family seisoen 5: Woensdag 27 November, M-Net, 19:30
  • Revenge seisoen 3: Donderdag 28 November, M-Net, 19:30
  • Chicago Fire seisoen 2: Dinsdag 3 Desember, M-Net, 19:30
  • Blue Bloods seisoen  4: Donderdag 12 Desember, M-Net, 20:35
  • NCIS Los Angeles seisoen 5: Donderdag 12 Desember, M-Net, 21:35
  • Arrow seisoen 2: Vrydag 13 Desember, M-Net, 19:30 (Dit begin met ’n episode wat kykers op hoogte bring van die vorige reeks.)
  • Elementary seisoen 2: Saterdag 14 Desember, M-Net, 19:45
  • American Horror Story: Coven seisoen 3, Maandag 23 Desember, M-Net Series Showcase, 19:30

- Natalie Cavernelis

Natalie Cavernelis Natalie Cavernelis is blogredakteur en eindredakteur: handelsmerkuitbreidings by Huisgenoot se sustertydskrif, YOU.  Sy is ’n oudredakteur van die TV-tydskrif TV Plus, is verslaaf aan haar gesin, TV, fliek en lees, en het ’n spesiale belangstelling in die populêre kultuur. Sy skryf ook omtrent al ons boekvraat-blogs oor Engelse boeke. Volg haar op twitter @NatalieCav.