Ons boekvraat is heeltemal versot op Eleanor & Park, ’n boek vir jong volwassenes. Op die oog af handel dit oor twee tieners wat in die 1980’s verlief raak, maar eintlik gaan dit oor soveel meer.

SA voorblad Die boek Eleanor & Park deur Rainbow Rowell (R139 slapband, R171 hardeband) Die punte  Vier uit vyf sterre

EK WENS ek kon binne-in hierdie onvergeetlike mooi boek klim en dit omhels. Ek wens ek kon dit on-lees sodat ek dit weer heeltemal vars van voor af kan begin lees. Ek wens ek was vriende met die twee hoofkarakters toe ek op skool was. (Ek wens egter nie ek was weer ’n tiener nie; dis ’n heeltemal te ingewikkelde tyd.)

Dié boek oor jong volwassenes wat in die 1980’s verlief raak, is op my lysie van die bestes van 2013. Dis ’n liefdesverhaal, maar nie ’n tipiese een nie. Dis ’n gelukkige verhaal met so baie hartseer in dat dit eintlik ’n hartseer verhaal is, maar dit is nie. Dis ’n boek vir jong volwassenes, maar dis beslis nie net vir tieners of mense wat in die 1980’s tieners was nie.

Die tieners Eleanor en Park ontmoet in 1986 wanneer Eleanor – groot, met rooi hare en onbeholpe kleredrag – op die skoolbus klim nadat sy en haar gesin na Omaha in Nebraska verhuis het, en sy nie weet waar om te sit nie. Sy’s ’n meisie wat altyd die aandag van boelies oral sal trek. Sy beland langs Park, ’n seun wat half-Koreaans en half-Iers is, en wat hom daarop toespits om hoërskool net te oorleef en nie wil hê ’n verloorder moet die aandag op hom kom vestig nie.

Die storie wissel tussen Eleanor en Park se gesigspunte wanneer sy sy strokiesprente oor sy skouer begin lees. Hy laat haar toe en begin wag vir ’n teken dat hy kan omblaai. ’n Verbintenis ontstaan namate die 16-jariges van X-Men na Watchmen vorder. Hulle raak verlief wanneer hy haar vra oor die The Smiths-liriek wat op haar boek geskryf is, net om te ontdek dat sy nog nooit hul musiek gehoor het nie. Sy skryf net liedjies neer wat sy graag eendag wil hoor. Dis die ’80’s en hy begin dus vir haar gemengde kassette opneem.

Dan is daar die donker kant van die storie. Eleanor het teruggetrek saam met haar ma en afskuwelike stiefpa. Sy deel ’n kamer met al haar klein boeties en sussies en besit nie eens ’n tandeborsel of batterye vir haar Walkman sodat sy na Park se bandjies kan luister nie. Sy word op skool geboelie, maar vind geluk saam met Park. Hy het ouers wat vir hom lief is en vir hom omgee, wat mal oor mekaar is – duidelik ’n gesin wat in ’n ander wêreld as Eleanor woon.

Ek is mal oor die reël waar Park dink: “Eleanor was right: She never looked nice. She looked like art, and art wasn’t supposed to look nice; it was supposed to make you feel something.” Dis ’n reël wat opsom hoe anders en wonderlik hierdie boek is. En wag tot jy by die slot kom, wat jou dadelik Twitter en Google toe sal laat draf om te gaan kyk wat ander mense daarvan dink. Ek het al drie Twitter-gesprekke gehad met volwassenes wat ook nodig gehad het om daardie slot te bespreek.

NS: Die skrywer is Rainbow Rowell, en dis haar regte naam. En net toe ek gedink het ek kan nie nóg maller oor hierdie boek wees nie, sien ek die Amerikaanse omslag met die oorfone wat ’n ampersand vorm wat die twee karakters aan mekaar skakel. Hoe briljant is dit?

Eleanor and Park- Natalie Cavernelis

Klik hier as jy Eleanor & Park wil aanskaf.

Lees ons vorige boekvraat-blogs:

Lees dié as jy ’n storie in die laai het

Geheime in Venesië

JK Rowling (oeps!) se eerste speurroman is ’n wenner

Nuwe boeke vir buksies

Oe-la-la . . . vuurwarm leesstof vir koue aande

Leer by die beste. Leer by Jack Reacher

Wat is ’n huis sonder ’n hond?

Op reis deur Florence saam met Inferno

Bloggers en Facebookers sal van dié spanningsverhaal hou