[caption id="attachment_48062" align="alignnone" width="596"]Die effens getikte student Joe en sy gyselaar, Angie. Die effens getikte student Joe en sy gyselaar, Angie.[/caption]

IS EK die enigste een . . . wat heeltemal verslaaf is aan die nuwe wetenskapsfiksie-reeks Under the Dome, maar wat nie kan verstaan waarom Junior en Angie die storielyn aanhoudend kaap nie?

Daar’s nou al twee episodes verby en ek sug klaar elke keer as die storie wegbreek van die fassinerende koepel wat oor die dorpie Chester’s Mill neergeval het en op die onstabiele student Junior fokus. Junior hou vir Angie gyselaar, en hy lyk grillerig en sy vreesbevange daar waar hy haar in sy pa se ondergrondse bunker vasgebind hou. Ek wil regtig ’n klein gaatjie in die koepel knip en die twee daar uitstoot.

Die vervaardigers van die reeks het gesê hulle volg nie eintlik die oorspronklike Stephen King-storie nie sodat mense wat die boek gelees het, die reeks steeds kan geniet. As gevolg daarvan weet niemand regtig wat met Junior en Angie gaan gebeur nie. Berei hulle solank die versteurde vent voor vir die toekoms, wanneer hy net nog ’n probleem vir die dorp gaan word?

Ek is bang Angie word dié reeks se Kim. Onthou jy hoe Kim in seisoen 2 van die reeks 24 aanmekaar deur haar eie toedoen in verspot gevaarlike situasies beland het (gejaag deur ’n poema en dan haak haar voet in ’n wip vas), terwyl haar pa, Jack Bauer, besig was om die wêreld te red?

[caption id="attachment_48061" align="alignnone" width="596"]Angie en Joe Angie en Joe[/caption]

Mense wat die boek gelees het, weet dat Angie eintlik doodgaan net voor die koepel val (en ek beloof ek bederf nie nou die TV-reeks vir jou nie). Die aktrise Britt Robertson, wat Angie speel, was self uit die veld geslaan toe sy die boek lees nadat sy die rol gekry het en sien dat sy eintlik doodgaan voor enigiets regtig gebeur.

“Ek het tog geweet ek maak meer as een verskyning in die reeks. Maar aan die begin van die boek word Angie in hierdie kas toegesluit en is sy dood, en dan sluit nog ’n dooie mens by haar aan – wat ook gereeld in die TV-weergawe verskyn. Terwyl ek die boek gelees het, het ek heeltyd gedink my karakter gaan iewers wonderbaarlik weer begin lewe, maar sy het nooit nie,” het Britt vir TV Guide vertel.

En die aktrise verduidelik ook waarom haar broer nie juis bekommerd oor haar verdwyning is nie.

“Sy sien haar broer voor sy aangehou word, en kykers gaan dus dink: ‘Hoekom soek haar broer haar nie? Hy weet mos sy is iewers onder die koepel soos almal anders.’ Maar dit het te doen met die soort mens wat Angie is. Sy is ’n baie onafhanklike, vrye siel. Sy het haar eie woonstel en doen net wat sy wil. Daar is die gevaar dat iets dalk met haar kon gebeur het, maar mense dink ook dis maar soos Angie is. Dis vir haar vreesaanjaend, want niemand soek haar nie.”

Ha! Dit maak darem ’n bietjie sin omdat die eerste episode haar “vrye siel” wys, en ek weet die dorp is veronderstel om groter te wees as wat dit nou lyk – Joe kan dus dink sy is op omtrent enige plek.

En vir dié wat net so omgekrap soos ek is oor die storielyn: Britt het gesê die gyselaarsituasie duur vier episodes voor dinge verander.

[caption id="attachment_48063" align="alignnone" width="800"]Joe, die sexy swerwer Barbie, die sexy swerwer (Mike Vogel)[/caption]

Goed om te weet. Nou kan ek dus konsentreer op die sexy swerwer Barbie (gespeel deur Mike Vogel wat die polisieman in Bates Motel was) met sy militêre vaardighede en geheimsinnige maniere, en die kinders, Norrie en Joe, wat neerslaan en toevalle kry terwyl hulle aangaan oor “pienk sterre wat val” – van húlle wil ek graag meer sien.

[caption id="attachment_48064" align="alignnone" width="596"]Norrie en Joe, wat lyk of hulle ’n soort verbintenis met die koepel het. Norrie en Joe, wat lyk of hulle ’n soort geheimsinnige verbintenis met die koepel het.[/caption]

Ek was nuuskierig om te sien of die reeks enigiets buite die koepel gaan wys, maar dit gebeur nie. As kykers is ons ook binne-in die koepel en weet ons net wat die mense van die dorp weet.

“Ons het ’n bewuste besluit geneem dat ons nie die koepel gaan verlaat nie, behalwe in die finale skoot van die eerste episode waar ons terugtrek en die koepel in al sy glorie wys,” het die uitvoerende vervaardiger, Brian K. Vaughan (wat ook aan die TV-reeks Lost gewerk het), vir die Hollywood Reporter gesê. “Ons gaan saam met die karakters binne-in vasgevang wees. Ons gaan nie terugflits na hul kinderjare in Poughkeepsie of oorskakel na hul meisie in New York nie; ons gaan regtig vasgekeer wees in Chester’s Mill.”

Die reeks is terloops vir ’n tweede seisoen hernu en die vervaardigers het gesê elke episode verteenwoordig min of meer een dag van die karakters se lewe. Die eerste seisoen (13 episodes) speel dus oor skaars twee weke af.

Wel, ek dink ek sal my verstand verloor as ek twee weke lank onder ’n koepel vasgekeer moet wees . . .

* Under the Dome word Dinsdagaande om 20:30 op M-Net uitgesaai.

-       Natalie Cavernelis

Lees Natalie se ander TV-blogs:

10 fantastiese dans-roetines op TV

8 nuwe reekse op pad

Die Emmys, The Fixer en dié wat beroof is . . .

Ontmoet my TV-mans

TV-paartjies wat bymekaar moet uitkom

10 nuwe TV-reekse!

Kyk! Die meisie van My Girl het grootgeword

Wat ’n woeste Game of Thrones!

TV se stylvolste karakters

Watter ander ouers is moeg vir Barney?

Dierbare Emily

The Fixer se koel klere

Is dit net ek?