Ons boekvraat bekyk vyf heerlike boeke wat binnekort hul buiging as flieks gaan maak.

JA, DIE boek ís meestal beter as die fliek, maar as een van jou gunstelingboeke ’n rolprent word, is dit gewoonlik opwindend om te kyk of die regisseur se visie by die prentjie in jou kop pas.

Partykeer is ’n mens teleurgesteld, maar ’n hele klompie boekflieks was regtig goed en die Harry Potter-prente het selfs ’n mens se verwagtinge oortref. Een van my gunstelinge is Mystic River deur Dennis Lehane en al het Stephen King die fliekweergawe van sy boek The Shining gehaat, was die meeste mense gek daaroor. Ek dink ook die fliek van The Godfather was beter as Mario Puzo se boek en ek het die rolprent van Children of Men verkies bo die P.D. James-roman waarop dit gegrond is.

In hul soeke na nuwe materiaal het rolprentvervaardigers die laaste ruk heelparty boeke opgeraap, party nog voor hulle verskyn het. En ’n hele paar goeie flieks is dus op pad . . . Hier is die vyf waarna ek veral uitsien: GONE GIRL deur GILLIAN FLYNN Die boek Dis die riller wat verlede jaar die meeste opspraak gewek het. Die taamlik onplesierige paartjie Nick en Amy Dunne se huwelik beland in die kollig as sy verdwyn en hy van haar moord aangekla word. Algaande word die storie ál ingewikkelder en ál boeiender. Die fliek Ek is opgewonde oor dié een. Die regisseur is David Fincher, wat Fight Klub en The Social Network gemaak het, en Reese Witherspoon se maatskappy vervaardig die  prent – die boek moet dus in veilige hande wees, of hoe? Ben Affleck en Rosamund Pike speel Nick en Amy en Tyler Perry is Nick se regsverteenwoordiger. Uitreiking Produksie begin einde vandeesmaand en die prent sal dus laat in 2014 of vroeg in 2015 uitgereik word. Kan nie wag nie. DIVERGENT deur VERONICA ROTH Die boek Ek het ’n sagte plekkie vir distopiese verhale vir jong volwassenes en Veronica Roth se Divergent-reeks is ’n gunsteling. In ’n distopiese Chicago word mense in groepe verdeel op grond van hul persoonlikheid en vaardighede: Candor (die eerlikes), Erudite (die intelligentes), Amity (die vreedsames), Dauntless (die dapperes) en Abnegation (die onselfsugtiges). Die sestienjarige Beatrice het in Abnegation grootgeword, waar geglo word in vrede deur onselfsugtige dade, maar sy skakel oor na Dauntless en word opgelei saam met dié vreeslose, opwindingshonger faksie. Sy laat haar familie agter, verander haar naam na Tris en ontmoet die geheimsinnige en aantreklike Four. Die fliek Shailene Woodley pas nie heeltemal by my idee van Tris nie, maar sy is ’n goeie aktrise wat goed ondersteun sal word deur Kate Winslet, wat een van die boewe speel, en Theo James (Underworld Awakening) as Four. Uitreiking 18 April 2014 in Suid-Afrika THE BOOK THIEF deur MARKUS ZUSAK Die boek Die trane loop vrylik terwyl jy dié boek lees, wat deur die Dood vertel word. Liesel Meminger is ’n Duitse mieisie in die laat 1930’s in Nazi-Duitsland en woon net buite München by haar pleegouers, Hans en Rosa Hubermann. Sy begin boeke steel al kan sy nie lees nie, en Hans gebruik dit om haar te leer lees terwyl hul wêreld uitmekaarval.

Die fliek Ek’s senuagtig oor dié een; die boek is so spesiaal dat ek amper te bang is om die rolprent te kyk. Aanhangers was aanvanklik bekommerd dat dit nie die Dood as die verteller sou insluit nie, maar die skrywer het op sy webtuiste gesê hy sien uit na die Dood se verskyning op die toneel en om hom te hoor praat; dit klink dus asof die vervaardigers nie te veel van daardie deel van die boek gaan afwyk nie. Die Frans-Kanadese aktrise Sophie Nélisse lyk ook soos ’n goeie Liesel en die veteraan-akteurs Geoffrey Rush en Emily Watson vertolk die Hubermanns.

Uitreiking 7 Februarie 2014 in Suid-Afrika HORNS deur JOE HILL Die boek Joe Hill, seun van die legendariese gruwelskrywer Stephen King, het ’n soort Gotiese fantasieverhaal die lig laat sien. Die bedroefde Ig Perrish ontwikkel horings en bonatuurlike magte omtrent ’n jaar nadat sy meisie verkrag en vermoor is. Hy was die hoofverdagte, maar is nooit aangekla nie en is nou van plan om sy duiwelse nuwe magte te gebruik om die moordenaar op te spoor. Dis donker en dis wonderlik. Die fliek Daniel Radcliffe is klaar met Harry Potter en kweek horings om Ig Perrish te speel. Die skrywer sê hy is fantasties en ek betwyfel dit nie. Juno Temple speel die oorlede meisie (sy het die niggie Lola in Atonement gespeel). Uitreiking Dit word volgende jaar internasionaal uitgereik. THE FAULT IN OUR STARS deur JOHN GREEN Die boek Jy huil jou hemp sopnat namate jy die 16-jarige Hazel Lancaster leer ken. Sy stry teen kanker en word deur haar ouers gedwing om by ’n steungroep aan te sluit. Daar ontmoet sy vir Augustus Waters. Dit gaan oor liefde, vriendskap en die lewe en dis moeilik om nie verknog te raak aan dié twee nie, so skud jou sakdoek solank los. Snik. Die fliek Shailene Woodley is ’n bedrywige meisie; dié slag speel sy Hazel. Ansel Elgort vertolk die rol van Augustus – en interessant genoeg verskyn hy ook in Divergent, waar hy Tris se broer Caleb speel. Uitreiking In die loop van  2014

- Natalie Cavernelis

Lees ons ander boekeblogs:

Dieners en Donners/Cops and Robbers deur Mike Nicol

Eleanor & Park deur Rainbow Rowell

Writing the Blocbuster Novel; Om te Skryf

The Jewels of Paradise deur Donna Leon

The Cuckoo’s Calling deur Robert Galbraith (JK Rowling)

Nuwe boeke vir kleingoed en ampertieners

Twee nuwe hygromans

Reacher’s Rules

Todo in Tuscany deur Louise Badger en Lawrence Kershaw, Vanilla Beans & Brodo deur Isabella Dusi

Inferno deur Dan Brown

Snydokter deur Leon van Nierop