Van Elementary tot Downton Abbey – ons TV-blogger was die vakansie ’n algehele TV-vraat wat haar PVR halfpad leeggekyk en agtergekom het daar is net een manier van reekse geniet.

[caption id="attachment_64782" align="alignnone" width="600"]Foto van Lucy Liu en Jonny Lee Miller - Sherlock en Watson Luci Liu as dr. Watson en Jonny Lee Miller as Sherlock Holmes in Elementary.[/caption]

DAAR’S iets baie plesierigs aan om jou pad deur ’n hele PVR te werk, ’n PVR wat op 90 persent vol omtrent niks anders kan opneem nie. Nadat ek ’n paar programme die trekpas gegee en “per abuis” ’n paar van my man se opnames uitgevee het (ek weet dit was nie baie gaaf van my nie, maar ek kon nie helder dink te midde van reeks-oorlading nie), het ek in Desember uiteindelik met vakansie gegaan en die PVR begin opruim.

Elementary: skok, irritasie en plesier

Eerste aan die beurt was Elementary, want ek moes nog deur ’n hele paar episodes van seisoen een ploeg en seisoen twee het in Desember begin; ek moes dus plek op die PVR daarvoor maak.

Ek het gelukkig oor die skok gekom dat Moriarty en Irene Adler een en dieselfde mens is, maar daar was geen tyd om daardie geniale kinkel te bewonder of Natalie Dormer se uitstekende vertolking van die rol te geniet nie, want ek moes aan die gang bly en die PVR met nog ’n paar persentasiepunte laat daal.

[caption id="attachment_64783" align="alignnone" width="600"]Sherlock Holmes (Jonny Lee Miller)en Irene Adler (Natalie Dormer) in Elementary. Sherlock Holmes en Irene Adler (Natalie Dormer).[/caption]

Elementary is pret en verslawend, en ek het dit amper misgeloop nadat ek eers gedink het dit sal nooit kan kers vashou by Sherlock, die uitstekende Britse weergawe met Benedict Cumberbatch nie.

Ek het die eerste paar episodes gekyk en daarvan gehou dat Jonny Lee Miller se privaat speurder besig was om van verslawing te herstel, en dat hulle Watson ’n vrou gemaak het (goed gespeel deur Lucy Liu).

Ek het asem geskep om haar koel klere te bewonder, maar ek was nie gereed om trou aan die reeks te beloof nie. Daar was te veel terugflitse na dinge wat skaars vyf minute tevore gebeur het, en al daardie beklemtoning van hoe oulik Holmes is en die duidelike vingerwysings na die stomme, domme polisie het ’n bietjie te veel geword.

Maar ’n vriendin en Twitter-kommentaar het my oorreed om weer te probeer. En ek is bly ek het.

Ná die eerste paar episodes is die terugflitse minder, en al het Sherlock nog steeds ’n verwaande bek op hom, is dit nie so erg soos voorheen nie en mag die polisie darem daaroor sarkasties wees.

Ek is ook baie bly die mense agter die reeks het die versoeking weerstaan om die twee ’n paartjie te maak of seksuele ondertone by te voeg.

En nou is ek op hoogte van seisoen twee, en hoef ek dus nie kosbare PVR-plek daaraan af te staan nie.

Downton Abbey en ander

Ek het ook seisoen drie van Downton Abbey ingehaal en het tyd nodig gehad om van die slotepisode te herstel (ek sal dit nie vir jou bederf as jy dalk nog nie gekyk het nie!). Ek het ook ’n bietjie aan Breaking Bad en Homeland gewerk, en lekker gegiggel terwyl ek The Mindy Project ingehaal het.

[caption id="attachment_64785" align="alignnone" width="606"]Al die karakters van Downton Abby voor die herehuis. Die rolverdeling van Downton Abbey.[/caption]

Hoekom ek reekse wil kafloop

Ek kom ál meer agter dat dit nie meer vir my werk om net een episode per week van ’n reeks te kyk nie. Ek het minstens ’n week van rug aan rug episodes elke aand nodig. En as ons gelukkig is en mense bied aan om die kleuter op te pas, is dit ongeëwenaarde saligheid om ’n hele middag lank na ’n reeks te kyk (en nog saliger as ’n mens ’n slapie ook kan inpas).

Ek wil nie meer wag om te sien wat in die volgende episode gaan gebeur nie; ek wil dit alles nóú hê en daarom help dit om ’n paar episodes te laat ophoop en dan alles op een slag deur te kyk.

Die plan vorentoe

Ek het nie by alles uitgekom wat ek in die vakansie wou kyk nie (’n mens word tog ook aangeraai om buitentoe te gaan en tyd in die son deur te bring). Ek is stadig besig om Banshee, Revenge en Blue Bloods in te haal, maar ek het groot vordering gemaak en die PVR staan op ’n gesonder 50 persent.

Ek werk nog daaraan omdat 30 persent ideaal is, maar ek dink selfs 40 persent sal as ’n oorwinning beskou word.

- Natalie

Natalie Cavernelis Natalie Cavernelis is blogredakteur en eindredakteur: handelsmerkuitbreidings by Huisgenoot se sustertydskrif, YOU.  Sy is ’n oudredakteur van die TV-tydskrif TV Plus, is verslaaf aan haar gesin, TV, fliek en lees, en het ’n spesiale belangstelling in die populêre kultuur. Sy skryf ook omtrent al ons boekvraat-blogs oor Engelse boeke. Volg haar op twitter @NatalieCav.