SY LAASTE woorde aan haar was ‘‘trou met my’’ . . . en toe word die silwerdoek pikswart en miljoene aanhangers bly in die donker sit, klaar weer honger vir nog Twilight-drama.

Ons praat natuurlik van die fliekwêreld se gewildste mens/vampier-liefdesverhouding – en nou is daar nog net ’n paar slapies oor voor Twilight-gekkes hulle aan die derde fliek in die supergewilde reeks kan verlustig.

As jy reeds een van die miljoene aanhangers is wat op YouTube na die lokprent gaan kyk het, sal jy weet hier kom hope aksie wanneer Eclipse op 30 Junie landwyd begin draai. En vir die superverslaafdes is daar middernagvertonings op 29 Junie by Nu Metro-rolprentteaters oral in die land.

“Nes jy dink jy kry dieselfde storie, verander dit skielik heeltemal. Bella is weer haar ou self. Sy’s gemaklik en selfversekerd, nie soos in New Moon nie,’’ verklap Kristen Stewart, wat Bella speel. ‘‘In Eclipse jok Bella ’n bietjie vir haarself en ook vir almal rondom haar oor die feit dat sy lief is vir Jacob. Dit word nou alles anders.’’

Aanhangers moet veral op die uitkyk wees vir een besondere toneel, sê sy. ‘‘Jacob en Edward, wat aartsvyande is, is in ’n tent saam met Bella en sy slaap tussen hulle. Dit klink verregaande, maar dit gebeur.’’

Sy is nogal senuweeagtig oor hierdie derde fliek, bely Kirsten, want dis ’n groot voorreg om ’n rol so lank te kan speel. Daar is darem dié troos: Toe sy die boek eers begin lees het, kon sy dit nie neersit nie.

En daar is geen twyfel dat die derde fliek in die Twilight-reeks wat op Stephenie Meyer se boeke gebaseer is, weer die geld gaan laat inrol nie. Die eerste, Twilight, het immers meer as R3,1 biljoen en die tweede, New Moon, R5,4 biljoen by die loket verdien.

Die drie hoofakteurs in een van die silwerdoek se verslawendste liefdesdriehoeke – Kristen, Robert Pattinson en Taylor Lautner – het oornag supersterre geword danksy die flieks. Hul bankbalanse het nog nooit so gesond gelyk nie, en boonop kan hulle nou kies in watter fliek hulle volgende wil speel, en teenoor watter groot name.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 27 Junie 2010.

Op die internet

http://www.eclipsethemovie.com/

www.thetwilightsaga.com

Twilight Facebook-blad