Ons TV-blogger het ’n lysie van haar vyf besgeklede TV-karakters gemaak en toe nog bygegooi nadat sy gesukkel het om by vyf te hou. Lees haar blog hier onder en kyk of jy saamstem met haar keuses of laat weet wie jy sou bysit of weglaat.

Die top vyf

EMILY VANCAMP, JOSH BOWMAN1 Emily Thorne (Revenge)

Ek sou nie graag aan die wraaksugtige Emily Thorne (vertolk deur Emily VanCamp) se verkeerde kant wil beland nie. Om haar beste vriendin te wees klink ewe gevaarlik; daarom sal ek maar haar styl van ver af bewonder met ’n verkyker, weggesteek in die sandduine van die Hamptons. “Ons kies altyd ’n klassieke ou Hollywood-voorkoms vir haar,” het Jill Ohanneson, Revenge se kostuumontwerper, aan The Hollywood Reporter gesê. “In die eerste seisoen was Emily onskuldig en vars (dit verklaar al die wit klere wat sy gedra het). In die tweede seisoen raak sy by meer rampspoedige voorvalle betrokke; daarom het ons haar gesofistikeerder gemaak, met styfpassende rokke, donkerder kleure en ’n tikkie leer om haar rateltaai te laat lyk.” Die mode is ’n belangrike deel van die reeks; daarom is dit nie ’n verrassing nie dat die reeks die inspirasie is vir ’n reeks rokke en bykomstighede wat in Amerika te koop sal wees.

Olivia Pope2 Olivia Pope (The Fixer)

Ek het al in ’n vorige blog oor Olivia se asemrowende klerekas geskryf KLIK HIER http://you.co.za/the-fixers-amazing-wardrobe/; daarom sal ek nie veel uitwei oor hoeveel ek haar styl bewonder nie. Hoewel ek Revenge se Emily as my No. 1 gekies is, is Olivia kort op haar hakke met haar koel pakke en pragtige rokke.

Alicia Florrick3 Alicia Florrick (The Good Wife)

Goed, ek kul so bietjie want ek het gesê ek gaan net karakters wat tans op die kassie is op die lys sit en sy hoort eintlik op my tweede lysie omdat die seisoen ’n paar weke gelede klaargemaak het, maar ek kan nie; sy is eenvoudig ongelooflik. Alicia se liefdeslewe is dalk een groot gemors, maar dié prokureur weet hoe om die koppe te laat draai in haar duur pakke en asemrowende skoene. Kan jy jou indink hoe groot die vertrek moet wees wat die program se kostuums huisves? “Ek het waarskynlik sowat 300, 350 (pakke) vir Alicia en seker so 250 pakke vir Diane,” het Daniel Lawson, die reeks se kostuumontwerper, aan The Daily Beast gesê. Hoe word haar uitrustings beplan? “Ek begin by die draaiboek en probeer dan dink soos die karakter en ontwerp die klere vir die spesifieke episode en die situasies waarin die karakters hulle bevind,” het hy aan The Washington Post gesê.

Joan Watson4 Joan Watson (Elementary)

Wat ’n geniale besluit om ’n vroulike Watson vir Sherlock Holmes te skep! En Watson (vertolk deur Lucy Liu) se pragtige uitrustings lyk bekostigbaar en moeiteloos; net mooi wat die TV-base in gedagte gehad het. “Watson dra klere van winkels waar ons almal koop” gemeng met duurder items, het die kostuumontwerper Rebecca Hofherr aan Entertainment Weekly gesê. Ons is veral dol op haar oorskutte en oulike mussies!

Melinda Gordon5 Melinda Gordon (Ghost Whisperer)

Ek het elke aflewering van die oulike, maar donker reeks verslind toe dit op DStv was, en kon dit nie weerstaan om dit weer op SABC2 te kyk nie. Die reeks het in 2010 geëindig, maar die meeste van Melinda se klere lyk nie oudtyds nie en daar is ’n hele paar Pinterest-borde wat aan haar tydlose modes opgedra is. Sy dra oulike antieksjiek uitrustings wat perfek pas by die eienaar van ’n antiekwinkel en iemand wat met spoke kan praat. “As sy ’n prokureur of polisievrou gespeel het, sou ons nie naastenby soveel pret gehad het nie,” het die program se kostuumontwerper, Joseph Porro, aan zap2it.com gesê. Jennifer Love Hewitt, wat die hoofrol speel, het aan USAToday gesê: “Dis die soort klere wat jong meisies sal kry wanneer hulle in antiekwinkels gaan snuffel. Haar elegante rokke en nagrokke is ontwerp om vloeiend te wees sodat dit kan beweeg as hulle die windmasjiene aanskakel.”Jip, ek sou beslis nie haar klere bokveld toe stuur nie.

Vier modieuse karakters wat nie tans op TV is nie

1 Barney Stinson (How I Met Your Mother)

Hy hoort eintlik onder my topvyf, omdat hy so “legendary” is (bring hom asseblief gou terug, e.tv)! Barney het dit van die begin van die reeks af duidelik gemaak hoe belangrik ’n goeie pak is. “Barney is baie bewus van handelsmerke,” het Sandra Jensen, die kostuumopsigter, aan zap2it.com gesê. “Hy dra Marc Jacobs, Prada, Dolce & Gabbana, Paul Smith.” En hy dra altyd ’n smal das. “As ek nie baie smaldasse kan kry nie, pas ek dit aan en maak dit nouer om dit daardie smaller voorkoms te gee. Dis koeler en vertoon meer van die hemp.”

Neal Caffrey2 Neal Caffrey (White Collar)

Dié mooi man dra ’n pak met soveel styl en is waarskynlik die besgeklede man op TV. Die inspirasie vir sy voorkoms kom van die 50’s en 60’s, sê die program se kostuumontwerper, Stephanie Maslansky. En al die pakke is gemaak om die akteur perfek te pas. “Ons het ’n voltydse Savile Row-opgeleide kleremaker wat hier werk. Dis baie belangrik, op TV en die regte lewe, dat klere behoorlik pas. Dit maak ’n groot verskil,” het sy aan gilt.com gesê.

3 Olivia Duran (666 Park Avenue)

Ek het nie juis die gruwelreeks gevolg toe dit op TV was nie, maar het ’n paar van Olivia se mooi uitrustings gesien. Die altyd stylvolle Vanessa Williams het die rol van Olivia vertolk, wat in Alexander McQueen, Fendi, Victoria Beckham en Saint Laurent getooi was. Die reeks is beëindig en toe verloor ek belangstelling, maar Olivia se mooi rokke is onvergeetlik.

4 Oliver Queen (Arrow)

Om eerlik te wees hou ek meer van dié karakter as hy nie veel aanhet nie, maar ek het darem lank genoeg ophou staar na die akteur Stephen Amell se indrukwekkende maagspiere om op te merk dat hy mooi aantrek. Oliver Queen is natuurlik ’n miljoenêr wat spoggerige pakke en ontwerperstruie en jeans kan bekostig; so hy behoort goed te lyk. En sy koel kostuum wanneer hy misdaad as Green Arrow bestry, is ontwerp deur Colleen Atwood wat Oscars vir haar kostuums in die flieks Chicago, Memoirs of a Geisha en Alice in Wonderland gewen het.

- Revenge wys Donderdae op M-Net om 19:30

- The Fixer wys Maandae op M-Net om 20:30

- Ghost Whisperer wys Saterdae op SABC2 om 18:30

- Elementary wys Woensdae op M-Net om 20:30

- Natalie Cavernelis