Is dit net ek . . .

wat Emily van Emily Owens, MD as ’n beste vriendin wil hê? Sy is oulik en snaaks en ’n goeie dokter. En sy word vertolk deur Mamie Gummer, die dogter van die veteraan-aktrise Meryl Streep. Dan kan ek dan mos sommer vir Emily en Meryl as beste vriendinne hê as ek die regte lewe en TV-goed so ’n bietjie vermeng.

Ek hoop jy kyk dit. En moenie sê dis te soortgelyk aan Grey’s Anatomy nie, want dit is en dit is nie. Ja, daar is mediese goed. Ja, daar is liefdesdramas. En, ja, Emily het innerlike dialoog nes Meredith. Maar dis soos om ná ’n lang dag by die werk jou skoene uit te skop en jou pantoffels aan te trek. Dis gemaklik, dis ontspannend en dit maak jou gelukkig. Grey’s traumatiseer my dikwels met hul dramatiese gebeure en terwyl Meredith “somber en slinks” is, is Emily sonnig en skattig.

Ek hou daarvan dat sy ’n selferkende bleeksiel is en dat sy, al is sy slim, geen idee van die liefde het nie. En dit lyk of Mamie, wat ook af en toe in The Good Wife gesig wys as die prokureur Nancy Crozier, by Emily kan aanklank vind. “Ek het dit eintlik uitgeblok, maar ’n goeie vriend het my mooi daaraan herinner dat ek ’n bleeksiel was. Ek was nie ’n koel kind op hoërskool nie,” het sy vir Huffington Post gesê.

En as haar beste vriendin voel ek ek moet haar haar liefdeslewe help uitpluis. Ja, Will (gespeel deur Smallville se Justin Hartley), wat nes sy met sy eerste jaar van internskap as ’n chirurg besig is, is aantreklik. En, ja, sy het al lankal ’n ogie op hom. Maar hy is nie goed genoeg vir haar nie. Hy gaan in elk geval uit met die aaklige Cassandra (Aja Naomi King), Emily se aartsvyand uit haar hoërskooljare wat ook met haar eerste jaar van internskap besig is.

Mamie Gummer as Emily Owens

Ek wil by die TV-skerm inspring, vir Emily ’n roomys koop en haar daarop wys dat die sexy, vriendelike Micah (Michael Rady) duidelik op haar verlief is. Terwyl ek daar is, sal ek vir Cassandra “feeks” skree voor ek na my sitkamer terugspring.

Met elke week se kyk, raak ek ál hartseerder dat die lieflike reeks gekanselleer is en dat daar net ’n paar van die 13 episodes oor is. Ek haat dit om my te verbind tot ’n reeks wat my op die ou end in die steek sal laat, maar Emily is my beste vriendin en sy het my nodig.

Emily Owens, MD word Woensdae om 19:30 op M-Net Series vertoon.