In sepiewêreld is trou nie net perde koop nie, vir sommige karakters is dit as’t ware tweede natuur, soos tandeborsel of belasting betaal. Maar hoe dan nou anders in ’n wêreld waar vroue wakker word met volle grimering aan?

Of waar ’n hoofkarakter wat sterf wonderbaarlik ’n tweelingsib het wat ná ’n traumatiese dood sy of haar opwagting maak en op ’n haar na soos die oorspronklike karakter lyk?

Dié sepiekarakters skrik nie vir troubeloftes nie:

Brooke Logan van The Bold and The Beautiful

EricBrookeRidge_REG

Brooke was heel eerste verlief op die seun van die vermoënde en invloedryke Forrester-familie se seun, Ridge, maar het eers met die patriarg, Eric, getrou voor sy die eerste keer die strop om Ridge se nek gekry het.

Daarna het sy en Ridge ’n verstommende sewe keer getrou – en geskei. Die stormagtige verhouding tussen haar en Ridge is ook die katalisator van haar jare lange vete met Ridge se ander aan-en-af romantiese verhouding met die psigiater, dr. Taylor Hayes.

Brooke en Eric het ook twee keer voor die kansel gestaan en om als te kroon het sy selfs met Eric se seun en Ridge se broer, Thorne, ook getrou. Praat van ’n familiefees!

Haar ander huwelike, met Grant Chambers, Whip Jones en Nick Marone, was maar oomblikke in die wind.

Die blonde Brooke het dus altesaam al dertien keer getrou. Mens wonder waar bêre sy al daardie trourokke?

Ridge Forrester van The Bold and the Beautiful

Brooke Ridge Taylor

Die hartebreker Ridge Forrester behoort ook nie ’n tekort aan troupakke te hê nie. Hy is kort op sy eksvrou, Brooke, se hakke wanneer dit by afhaak kom.

Benewens die sewe keer dat hy met Brooke getroud was, het hy en Taylor drie keer getrou en hul tweede huwelik het wraggies agt jaar gehou. Jy dink dit moet ’n rekord in sepiegeskiedenis wees, maar dan besef jy Taylor was meer as ses van daardie agt jaar nie deel van die storie nie.

Sy is verkeerdelik vir dood aangesien ná ’n vliegongeluk . . .

Ook net in die sepies!

  • Die akteur wat Ridge Forrester meer as 25 jaar vertolk het, Ron Moss, het onlangs die sepie verlaat en is deur Thorsten Kaye vervang. Loer hier om te sien hoe die nuwe Ridge lyk!

Ryno Lategan van 7de Laan

Ryno

Die suksesvolle skrywer van Hillside is omtrent ’n haan onder die henne en was al vier keer getroud: met Barbara van Heerden, Christelle Terreblanche, die rooikop Anette Lategan en Emma le Roux.

Ryno, wat deesdae sy lyf joernalis hou as die redakteur van die plaaslike koerant, die Hillside Times, is ’n man wat toe hy jonger was, vinnig verlief en verloof geraak het.

In sy onlangse verhoudings met Isabelle Moolman en Marcel van Niekerk het hy egter nie halsoorkop opgetree nie en die liefdesvlam is geblus voor hulle voor die kansel gestaan het.

Maar ná Marcel se vertrek is hy nou al ’n geruime tyd ’n alleenloper. Sal kykers nog sien hoe hy vir die vyfde keer vrou vat?

Louwna Roelofse van Egoli

Brumilda van Rensburg as Louwna in Egoli

Egoli kuier nou al meer as drie jaar nie meer by Suid-Afrikaanse kykers op die kassie nie, maar wie sal ooit Louwna Roelofse Vorster Edwards Von Badenburg Edwards kan vergeet?

Louwna, gespeel deur die immergroen Brümilda van Rensburg, was vir die 18 jaar dat dié sepie op M-Net gewys is, deel van die intrige en het gewoeker in dié byna twee dekades . . .

In die 90’s was sy die trofeevrou aan die sy van die motormagnaat en patriarg van die magtige Vorster-familie, Walt; ná sy dood het sy getrou met die man wat die leisels oorgeneem het, Chris Edwards. Toe hulle stormagtige verhouding tot ’n einde kom, het sy haar in die huwelik met Rex von Badenburg begewe, maar eindelik het sy en Chris weer getrou.

Sjoe, ’n mens raak omtrent net moeg van dink aan al die troureëlings en egskeidingsbevele!

Almari Wessels