Die fliekreeks The Hangover het Britse mans aangemoedig om wolftropbendes te stig.

Mans tussen 18 en 34 jaar se sosiale lewe het verander sedert die eerste van die drie flieks uitgereik is, met amper die helfte wat sê hulle behoort tot die een of ander wolftrop; 17 persent noem selfs hul groep vriende die “wolftrop” en 21 persent beskou hulle as die grootbaas van die groep.

Die idee van ’n wolftrop het gewild geraak ná ’n toneel in die eerste fliek waar ’n ongelukkige Alan Garner, vertolk deur Zach Galifianakis,  daarvan praat tydens ’n toespraak op ’n dak. Sedertdien het dit deel van popkultuur geraak.

Die hutsteken #wolfpack word gemiddeld 50 keer per dag deur Britse gebruikers gebruik en het meestal te doen met beste vriende, reise, en toekomstige avonture. Wêreldwyd word #wolfpack elke anderhalf minuut genoem.

Virgin Media het navorsing gedoen oor die vriende se karaktereienskappe en bevind ’n vyfde reken hulle is soos Phil, die leier van die groep, vertolk deur Bradley Cooper, 22 persent meen hulle is ongeluksvoëls soos Stu (Ed Helms) en amper ’n tiende het erken hulle beland dikwels in die moeilikheid, net soos soos Doug (Justin Bartha).