As jy al ooit gefassineer was deur die fyn borduursels van ’n wilde orgidee se blom of jou verwonder het aan die eienaardige groeiplek wat sy gekies het op ’n klam rotslys êrens langs ’n bergpad, is dié 6,7 kg leesstof vir jou.

Hoewel daar al voorheen beskrywings van Kaapse orgideë was, is dit die deeglikste stuk werk dié. Dit is deurdrenk met die soort kennis wat net oorgedra kan word ná dekades van intense ondersoek.

Die boeke fokus op die 241 orgideespesies wat aangetref word in die Kaapse Blommeryk (’n plantegroeistreek wat van Namakwaland tot onder in die Kaap en dan weer tot bo in Port Elizabeth strek). Dit is die uiteinde van meer as 20 jaar se werk deur William Liltved en Steve Johnson, met bydraes deur verskeie professionele en amateur-plantkundiges. Elke spesie word fyn beskryf, met notas oor die ontstaan van die benaming, die ekologie en taksonomie. Volkleur-foto’s word deur die fotograwe se passie en volharding lewend op die blaaie.

Die twee boekdele beslaan in totaal meer as duisend bladsye. Die eerste deel verskaf agtergrond oor die ekologie van Kaapse plante, die ekologie (veral met betrekking tot veldbrande) en morfologie van orgideë, asook die geskiedenis van hul ontdekking en beskrywing.

As Liltved se stelling in sy voorwoord dat die meeste mense nooit eens die helfte van al die spesies sal sien nie, vir jou meer klink na ’n uitdaging as na ’n klaaglied, sal jy hierdie boeke diep waardeer en gereeld gebruik. – HANNES WIESE

(Bestel dit by capeorchids@gmail.com)