DIE skoolbaadjie is te groot en hang los aan sy rietskraal lyf en die kortbroek wip bo sy knopknieë rond. Hy lyk lomp, ongemaklik en vaal – die volmaakte Spud in al sy twyfelagtige glorie.

Aanhangers van John van de Ruit se boek sal moeilik kan fout vind met die akteur wat Spud in die fliekweergawe speel – Troye Sivan is die toonbeeld van die bleeksiel in gr. 9 wat met sy onbeholpenheid en skreeusnaakse

avonture op kosskool diep in lesers se hart gekruip het.

Boonop lyk Troye nes sy karakter heelwat jonger as sy 15 jaar. Maar dis waar die ooreenkomste ophou tussen Spud en die Suid-Afrikaans gebore akteur wat in Australië woon.

Hy loop oor van selfvertroue, maak maklik vriende en het ’n wonderlike sangstem wat hom ’n groot gevolg op YouTube besorg het.

Hy is tuis in sy eie vel. “Spud kyk baie meer grond toe as ek,” sê die tiener-akteur aan Huisgenoot.

“Hy’s altyd op sy senuwees en hou hom meer eenkant.”

Troye was in sy noppies toe hy hoor hy het die gesogte hoofrol losgeslaan en gaan teenoor die Britse akteur John Cleese speel. Hy vertolk die rol van The Guv, Spud se gunsteling-onderwyser.

“Toe ek vir my Engels-tutor vertel ek het die hoofrol gekry, het sy dadelik die boek gaan koop,” vertel Troye, wat van gr. 9 af tuisonderrig ontvang het.

“Die res van die jaar het ons al my opdragte daaruit gedoen. Ons het Spud in diepte nagevors en dit het my gehelp om die karakter te leer ken.”

Troye was net twee jaar oud toe sy ouers, Laurelle en Shaun Mellet, in 1998 uit Johannesburg Perth toe getrek het.

Maar hy het nie gesukkel om Spud se Suid-Afrikaanse aksent baas te raak nie, want dis hoe sy ouers steeds praat.

Daarby kom die meeste van sy vriende in Australië ook uit Suid-Afrika. Dus was ’n week met ’n stemafrigter al

wat nodig was om Spud se yl stemmetjie reg te kry.

Hy kan skaars wag dat die fliek op 3 Desember in Suid-Afrika begin draai, sê Troye.

Lees meer die die Spud-fliek in die Huisgenoot van 25 November 2010