Oor die fliek:

Dit gaan oor Rose Hathaway en die Moroi-prinses Vasilisa “Lissa” Dragmor, twee beste vriendinne wat na St. Vladimir’s Academy teruggebring word nadat hulle twee jaar tevore as groentjies saam weggehardloop het.

Lissa het die superkrag om mense te kan genees en het Rose teruggebring uit die dood ná die ongeluk wat haar familie uitgewis het. Dit het die band tussen die twee feitlik onbreekbaar gemaak. Toe Lissa ontvoer word, moet Rose, wat psigiese vermoëns het, ’n span aanvoer om haar van haar bose oom, Victor Dashkov, te red.

Wie’s wie?

Victor Dashkov (Gabriel Byrne, 62) is die magshonger skurk wat niks en niemand sal ontsien om koning te word nie. Hy het ’n siekte wat net Lissa kan genees, en sy hoofdoel is om haar te oortuig om dit te doen. Hy het ’n dogter, Natalie, wat ook in die akademie is en al sy bevele uitvoer.

Pretfeit: Gabriel Byrne is ’n man van vele talente: Hy kan trekklavier speel en is ’n gekwalifiseerde argeoloog! Hy wou op 12 ’n priester word.

Prinses Vasilisa “Lissa” Dragomir (Lucy Fry, 21) isdie laaste oorlewende lid van die koninklike familie waarvan ons weet. Haar beste vriendin, Rose, is ’n dhampir-groentjie en hulle kruip al twee jaar weg. Hulle keer nou terug na die gevaarlikste plek op aarde vir die arme Lissa: die Vampire Academy.

Pretfeit: Lucy, ’n Australiër, is ’n bedrewe branderplankryer en is mal oor jogurt, tee en die teater.

Natalie Dashkov (Sarah Hyland, 22) is ’n regte ou feeks (hoe dan anders met ’n pa soos Victor Dashkov!). Sy spioeneer op Lissa, en probeer haar betrap waar sy haar superkragte gebruik.

Pretfeit: Sy is ’n talentvolle aktrise en is in 2013 vir ’n Critics’ Choice-toekenning benoem vir beste byspeler in ’n komedie vir haar rol as Haley Dunphy in Modern Family.

Die hoof van die dhampirs (bewakers) is Dimitri Belikov (Danila Kozlovsky, 27) en hy is prinses Lissa se amptelike voog. Hy is ook Rose se mentor en raak verlief op haar. Dis Danila se eerste Engelse rol en ons kan nie wag om die Russiese hartebreker weer te sien nie!

Pretfeit: Hy is nie net ’n mooi gesiggie nie; hy sing, dans en speel die dwarsfluit en saksofoon. Indrukwekkend!

Rose Hathaway (Zoey Deutch, 17) is ’n dhampir in opleiding, prinses Lissa se beste vriendin en sy is smoorverlief op Dimitri Belikov. Sy het probleme met gesag en vryf mense in magsposisies verkeerd op. Zoey lees op die oomblik die derde boek in die Vampire Academy-reeks en dink die fliek is getrou aan die eerste boek.

Pretfeit: Zoey se ma is die aktrise Lea Thompson, wat in treffers uit die 80’s soos Back to the Future gespeel het. “Sy’s my beste vriendin en ek is lief vir haar. Sy is jonk van gees en dis pret om saam met haar te wees,” sê Zoey.

Cameron Monaghan (20) is Mason Ashford, ’n dhampir en Rose se beste pel wat ook op haar verlief is. Maar sal sy hom ’n kans gee met Dimitri Belikov in die omtrek?

Pretfeit: Cameron het op vyf begin toneelspeel in advertensies.

Christian Ozera, gespeel deur die Britse akteur Dominic Sherwood (23), is ’n koninklike Moroi wie se ouers vermoor is. Toe Lissa en Rose na die akademie terugkeer, raak hy op Lissa verlief. Sy supermag is vuur.

Pretfeit: Hy is ’n talentvolle sanger/liedjieskrywer wat onlangs sy weergawe van Jason Mraz se liedjie Song for a Friend opgeneem het.

Ken jou storie

St. Vladimir's Academy = basies Hogwarts vir die ondooies.

Dhampir = halfvampier/halfmens en opgelei om bewakers van die Moroi te wees.

Moroi = die soort vampiere wat jy in ’n donker stegie kan raakloop en jy sal steeds oorleef.

Strigoi = die outjies van wie jy weghol as jy hulle in ’n donker stegie raakloop. Moenie met hulle mors nie!

Spirit = die mag om iemand wat dood is weer te laat leef.

Shadow kissed = iemand wat teruggebring is uit die dood deur iemand wat oor dié superkrag beskik.

Vampire Academy het op 14 Februarie begin draai.

- Jeremy Petersen

BRONNE: redcarpetendings.com, hypable.com, imdb.com, lucyfry.org, wikipedia.com, funtrivia.com, wikia.com, famousbirthdays.com, fangirlish.com, imdb.com, justjaredjr.com