Daar word dikwels ’n groot ophef gemaak van ma’s wat verwag, en dis reg so. Maar verdien die pa’s nie ook ’n bietjie aandag nie?

Die dae dat Pa passief gesit en wag het vir Ma om te pop, is lankal verby.

Deesdae is hulle veronderstel om proaktief te wees gedurende die swangerskap, en vir seker daarna, sê die Britse skrywer van dié boek.

Hy gee riglyne oor alles wat toekomstige pa’s moet weet, ook hoe om ’n ondersteunende maat te wees.

Die boek is netjies in chronologiese hoofstukke uiteengesit en behandel als van die oomblik dat die swangerskaptoets positief is tot ná die geboorte.

Dit beantwoord sleutelvrae soos wanneer om die goeie nuus te begin versprei, hoe om kosdrange te hanteer en hoe om ’n pasgebore baba se huil te stop.

Dis ook vol pittige, maar belangrike moets en moenies - soos om nie “is dit seer?” gedurende die geboorte te vra nie. En sommige ouens moet miskien sulke goed weet . . .

The Expectant Dad's Survival Guide: Everything you need to know deur Rob Kemp

Vermilion, R185

Ons dink: 3/5