Ons dink: 4/5

Menslike drama.

Met Jaden Smith, Jackie Chan en Zhensu Wu.

Regisseur: Harald Zwart.

10MG.

Begin op 17 September draai.

Waaroor gaan dit?

’n Dapper laaitie trek saam met sy ma van Amerika na Beijing.

Hy pas nie in nie en word mateloos afgeknou deur boelies. Dan ontmoet hy ’n nutsman wat hom die fynere kunsies van koeng foe leer.

Wie sal hiervan hou?

Enigiemand wat ’n skaduwee gooi of daarvan hou om springmielies te verorber terwyl hulle laag lê en hulle inleef in ’n menslike storie.

Die vierde ster is omdat die rolprent so opruiend vermaaklik is.

Jy weet hoe dit gaan eindig, maar tog is dit nie noodwendig die slot nie, maar die pretparkrit saam met die jong held na oorwinning, ook oor homself, wat hierdie nuwe weergawe van ’n ou treffer koel maak.

Jaden Smith is Will Smith se seun en hy het sy pa se voorkoms en charisma geërf.

’n Mens beleef elke tree van sy ongelooflike en menslike avonture saam met hom.

Opwindend, deerniswekkend en triomfantelik.

Wag vir DVD?

Nee. Omdat ouers kinders jonger as 10 moet vergesel, kan veral Pa en Boetman weer ’n band in die teater vorm terwyl hulle die lekkerte van fliek vier.

Die rolprent delf dieper as bloot die oppervlak en bring hulde aan leeuemoed, goeie, outydse morele waardes, ondersteuning van iemand swakker as jy en dapper menswees.

Boonop wys dit jou meer van die Chinese lewenswyse met beeldskone skote van die moderne China en sy kultuur terwyl ’n seun man word en leer om nuwe invloede te akkommodeer.

Val in die fliektou – hierdie rolprent kan dalk jou lewe verander.

Soortgelyke flieks

Rocky; The Karate Kid (1984).

Springmielie-feite

Jaden Smith was 11 toe die fliek geskiet is.

Hy het sy debuut op TV gemaak in die reeks All of Us.