DIE ONGELOOFLIKE AVONTURE VAN HANNA HOEKOM

Ons dink: 3/5

Drama. Met Anneke Weideman, Anna-Mart van der Merwe en Gys de Villiers. Regisseur: Regardt van den Bergh. ???. Begin op 20 Augustus.

Waaroor gaan dit?

’n Meisie wat in haar eie verbeeldingswêreld leef, word vir ’n ruk saam met haar eksentrieke gesin in ’n huis in die berge vasgekeer.

Wie sal hiervan hou?

Moeilik om te sê. Dis beslis nie vir kinders nie. Dis vir lesers wat van gesofistikeerde kunsflieks hou wat in die interne landskap van ’n karakter afspeel. Dis onderspeel en in ’n geslaagde mineursleutel gemaak. Anna-Mart van der Merwe is briljant en sprankelend, maar dit is Anneke Weideman wat uitstaan. Die goeie spel sorg vir die derde ster. Die regisseur kry dit nie altyd reg om die rolprent uit die blaaie van die Marita van der Vyver-roman te lig nie. Soos Up het dit ballonne nodig om op te styg en dit gebeur nie altyd nie. Maar nes Jakhalsdans is dit ? stap in die regte rigting en ’n fliek waarvoor geen (Suid-)Afrikaner skaam hoef te wees nie.

Wag vir DVD?

Ja, want die rolprent is intiem soos ’n TV-fliek geskiet. Op dié manier kom ’n mens nog nader aan die wonderlike eksentrieke karakters. In draaiboekvorm is die dialoog soms stram en lê die lang sinne moeilik in die spelers se monde. Maar die puik animasiewerk (met ’n Tim Burton-klankie) gee keurig gestalte aan die verbeeldingryke Hanna se ongelooflike skeppingsvermoë. KykNET moet gelukgewens word met die moed om hierdie bitter moeilike roman na die silwerdoek te verplaas. Al kort die rolprent soms woema en ’n sterker energie wat die betowering van die roman uitlig, is dit die rolverdeling, ook Helene Lombard en Gys de Villiers, wat hul karakters geloofwaardig en natuurlik oordra. Die opmars na die groot Afrikaanse rolprent kry hiermee ’n hupstootjie.

Soortgelyke flieks

Jakhalsdans, Little Miss Sunshine.

Springmielie-feite

* Anneke Weideman het in The Story of an African Farm opgetree toe sy 10 was en het reeds verskeie pryse gewen.

* Orijin in Kaapstad het gesorg vir die 12 minute verbeeldingryke animasie.