Waaroor gaan dit? ’n Rokjagter bring meer tyd op vliegtuie deur as op die grond. Maar wanneer hy land, moet hy werknemers van ’n groot maatskappy namens sy onsimpatieke baas ontslaan. Twee vroue daag gelyktydig in sy lewe op en konfronteer hom met sy nuttelose bestaan en eensaamheid.

Wie sal hiervan hou? Al klink die storie stroef, is dit die vlymskerp regie en diep insig in die manlike (en vroulike!) psige wat die prent ’n treffer by almal sal maak, of jy nou van romantiese komedies of ernstige dramas hou. Dis vir feitlik alle smake, want dit voer ’n opehartoperasie op die liefde uit, spesifiek op laventelhane wat in elke stad by ’n ander vrou slaap met die verskoning dat hulle nie die regte vrou kan vind nie. Die probleem is die uurglas loop selfs vir sy koerasie leeg en binnekort is daar nie meer ’n tweede kans nie. Die fliek durf die geld-aftakelingsproses wat Amerika op sy knieë gedwing het kaalkop aan en kyk met ’n doodsgrynslag na die rede daarvoor.

Wag vir DVD? Nee, want hierdie beheerste en skerp ontle-dende drama-komedie gaan beslis Oscars wen, veral vir sy opwindende en ondersoekende draaiboek. Vir ’n verandering steel George Clooney en sy gepoetste, koel sjarme nie die kalklig nie, nog minder kaap sy held die storie soos gewoonlik. Vroue troef hom op alle ge-biede en speel ’n barshou wat moontlik aan Vera Farmiga en Anna Kendrick Oscar-benoemings kan besorg.

Soortgelyke flieks Happy-go-lucky en Burn after Reading.

Springmielie-feite Jason Reitman het die draaiboek al in 2002 ge-skryf, maar ateljees het eers daarin belanggestel ná die afplatting in die ekonomie.

Hoe goed is dit: 4/5 Genre: Romantiese drama-komedie Akteurs: George Clooney, Vera Farmiga en Anna Kendrick Regisseur: Jason Reitman