Waaroor gaan dit?

’n Toergids neem ’n groep buitelanders op ’n rit deur Kaapstad en aan die hand van grapjastonele demonstreer hy aan hulle hoe om in Suid- Afrika te oorleef.

Wie sal hiervan hou?

Dis eintlik ’n Leon Schuster-rolprent dié vir diegene wat nie van Schuster-flieks hou nie. ’n Mens lag tog en daar is histeries snaakse (maar ook wrede!) tonele. Schuster ontsien g’n heilige koei nie en selfs hy loop deur, waarvoor hy lof verdien. Hy bewys dat hy vir homself kan lag en dieselfde straf kan vat as wat hy uitdeel. In ’n stadium dat jy nie gedink het jy kan meer vir enigiets in hierdie deurmekaar en chaotiese land lag nie, wys Schuster vir jou die komiese sy van ons absurd samelewing. Sommige tonele soos die lyk in die kombi is dalk te wreed, maar die plakkers wat in Seepunt  kaias opslaan en die verkeersman wat mense aftrek, is Schuster op sy beste.

Wag vir DVD?

Hierdie rolprent kom op presies die regte tyd. As daar dus buitelanders is wat by jou tuisgaan, ontvoer hulle (as jy moet) om Schuster op sy beste te sien. Hy belig die absurditeite van die lewe in Suid-Afrika wanneer hy toeriste waarsku om hul eie elektrisiteit saam te bring. (En hulle glo hom!) En waar niemand meer vir Julius Malema se manewales kan lag nie, stuur Schuster hom en sy F vir houtwerk hemelhoog op in ’n musikale nommer wat gehore in die paadjies sal laat rondrol. Al gaan kyk jy uit beginsel nie na ’n Schuster-fliek nie, sal dié een jou uitgestresde Suid-Afrikaanse senuwees heerlik kielie en laat ontspan. Gaan kyk dit gerus.

Soortgelyke flieks

There’s a Zulu on My Stoep, Mr Bones 1 en 2.

Springmieliefeit

Schuster het net een Afrikaanse fliek gemaak.

Schuks Tshabalala’s Survival Guide to SA 2010

Slapstick-komedie. Met Leon Schuster en Alfred Ntombela. Regie: Gray Hofmeyr. OBTGV.

Begin 28 Mei.

Ons dink: 3/5