Vergeet maar van jou alledaagse melkskommelgeure soos sjokolade, vanielje, borrelgom of lemmetjie.

Oral in die land volg restaurante deesdae die internasionale neiging om fynproewermelkskommels aan te bied deur tradisionele lekkertes in unieke meesterstukke te omskep.

Van soutkaramel-, Nutella- en Oreo-melkskommels tot “volwasse” variasies met ’n sopie – dié ongewone, geïnspireerde geure het die gunstelinge uit ons kinderdae smaakliker en gewilder as ooit gemaak.

Dink aan tuisgemaakte, retro geïnspireerde fynproewerdrankies wat die tradisionele variasie so, wel, vanielje laat klink.

Ons het ’n lys saamgestel van melkskommelplekke wat jy op die proef moet stel:

1. Craft in Parkhurst, Johannesburg

Die restaurant se spesialiteit, #OhShakes, is letterlik melkskommels op steroïede. Hierdie soet bederfies, met geure soos Candy Feast, Chocolate Overload en Salted Caramel Delight, bied ’n oormaat geur – gewaarborg!

2. Parc Café, Durban

Parc Café in Glenwood, Durban, het “gesonde” melkskommels met ’n kinkel vir die gesondheidsbewuste suikertande onder ons. Hul legendariese Free Shakes bestaan uit ’n kombinasie van avokado en vanielje met ’n dubbele skeut rooibos-espresso wat saam met ’n tuisgemaakte sjokoladebruintjies verpulp is. Njammies!

3. Boiler Room Café, Durban

Boiler Room Café in Durban is ’n byderwetse eetplek met die allerheerlikste fynproewerskommels. Die geure sluit in sjokolade-en-vanielje, haselneut-en-sjokolade, springmielie en soutkaramel. Hulle hou vol hul suurlemoen-en-meringue-fynproewerskommel sal jou lewe verander.

4. My Sugar, Kaapstad

Sjokolademakers by My Sugar in Seepunt, Kaapstad, het kwyllekker fynproewerskommels met ’n kinkel geskep. Boonop is dit amper te mooi om te drink. Hul miso-karamel-melkskommel bevat karamel, koekiebotter en botterkaramelspringmielies, en hul gekaramelliseerde klappermelkskommel met geklopte room met vanieljebone is iets so reg uit die melkskommelhemel.

5. Freedom Café, Durban

Durbaniete is gaande oor Freedom Café se heerlike melkskommels. Hul spyskaart bied iets vir elke liefhebber – van die tradisionele sjokolade, piesang en kersie tot die meer eksentrieke Spiked Shakes: toffiepiesangtert, appeltert en pepermentsjokolade.

6. Protea Fire & Ice Hotel, Kaapstad

Die fynproewerskommels wat jy by die Protea Hotel Fire & Ic in Kaapstad kry, word as van die beste in die Moederstad beskou. Die hotel se restaurant bied twee reekse: Naughty en Nice. Die nie-alkoholiese skommels sluit in Big Blue (bloubessies en room), Aero Attack (met Aero-sjokolade) en Lindt-O-Licious (Lindt-sjokolade), maar die melkskommelreeks vir volwassenes is baie meer opwindend: Patronage (met Patron-koffielikeur), Elephant’s Trunk (met ’n Amarula-geur) en Tequila Mockingbird (met tequila). Dis die antwoord dié op al jou melkskommelhunkeringe. En vir dié wat sonder skuldgevoelens wil weglê, is daar selfs ’n halfporsie-opsie.

7. The Thirsty Scarecrow, Stellenbosch

A photo posted by Ruan Breytenbach (@ruke27) on

The Thirsty Scarecrow op Stellenbosch is dalk bekend om hul plaaslike bier van mikrobrouerye, maar hul tradisionele melkskommelreeks het ook hul naam ver laat draai. Met fantastiese geure soos appeltert, suurlemoenskuimtert en toffiepiesangtert is dit die eenstopwinkel om daardie suikertand tevrede te stel.

8. XO Patisserie, Johannesburg

A photo posted by XO Patisserie (@xo_patisserie) on

XO Patisserie by 27 Boxes in Melville, Johannesburg, bied ’n onweerstaanbare twee-vir-een-aanbod vir liefhebbers van nagereg. Hulle is bekend vir hul cronuts (dit is diepgebraaide croissant/oliebol met allerhande heerlikhede, vir dié wat nie weet nie) en het nou ’n melkskommel geskep met hul befaamde fyngebak-heerlikheid bo-op.

9. Gourmet Garage, Johannesburg

Gourmet Garage in Fourways, Johannesburg, is ’n retro eetplek met van die beste tradisionele melkskommelgeure in die stad. Dink aan al jou gunstelinge: sjokolade, vanielje, piesang en selfs Horlicks, maar met ’n ekstraromerige kinkel. Gewaarborg om jou smaak te prikkel met ’n ekstra dosis nostalgie!

10. The Leopard, Johannesburg

Die gewilde The Leopard-restaurant in Melville, Johannesburg, het ’n unieke Midde-Oosterse-aanbod as deel van hul heerlike reeks. Jou buik sal dans danksy die eksotiese geure van dié melkskommels. Daar is ’n dubbeldik, halva-geïnspireerde een, een met ’n romerige tahini, een met gepreserveerde suurlemoen en roosstroop, stukkies Turkse lekkers en pralien van gesoute, geroosterde neute.

– Latashia Naidoo