True Blood is terug op ons skerms en ons TV-blogger is bly om haar vernaamste TV-wederhelf, Alexander Skarsgård, weer te sien. Sy wonder of ander mense ook TV-mans het.

IS EK die enigste een . . . wat TV-wederhelftes het? Sê asseblief jy het ook een of twee sodat ek nie soos ’n stapelgek vrou voel nie.

Die rede waarom ek jou van my denkbeeldige verhoudings vertel is omdat ek op die punt staan om die kurk van ’n bottel peperduur sjampanje te laat klap om die tuiskoms te vier van TV-man nommer een, Alexander Skarsgård. Hy speel die pragtige vampier en gewese Viking Eric Northman in True Blood, wat van vanaand

(15 Julie) af terug op ons skerms is. Dis moeilik vir ons TV-huwelik dat ons mekaar net een keer per jaar vir twaalf weke sien, maar ek probeer daaraan dink as ’n soort wittebrood. Ons kuier wel tussendeur oor ’n potjie Blu-ray by mekaar, maar dis nie heeltemal so spesiaal soos daardie eerste sien nie.

Alex cropped

Ek weet Die Regte Wederhelf vind dit irriterend, maar hy het belowe om nie te oordeel nie. Hy hou ook nie daarvan om saam met my na True Blood te kyk nie, aangesien al die Eric-tonele gestop en teruggespeel word terwyl ek my lippe aflek (om hierdie blog te skryf moes ’n klomp Eric-uittreksels ook saans ge-youtube word). En die baie, baie ander vroue wat mnr. Skarsgård waarskynlik ook as hul TV-man beskou skeel my min; hy is heeltemal te pragtig om nie te deel nie.

Dit was nie liefde met die eerste oogopslag nie, want in seisoen een het hy daardie aaklige lang blonde pruik gedra. Maar die oomblik toe Pam sy hare gesny het, het my hart gaan staan. Ek hou ook duim vas dat hy en Sookie by mekaar sal uitkom. Ek hou van vampier Bill (sy reïnkarnasie na Billeth teen die einde van seisoen vyf was nogal spesiaal) maar dit moet moeilik wees om met Eric mee te ding, dus kan ek nie sien dat Sookie (of eerder Sookaay!) by enigiemand anders sal uitkom nie. Nee, nie eens by die gespierde en omtrent altyd naakte Alcide (of die irriterende vaalseun Sam) nie.

My ander TV-mans

My tweede TV-man se polisiereeks Common Law is ongelukkig gekanselleer. Maar Michael Ealy is spesiaal en die heelal weet seker ek moet meer van hom sien, want hy verskyn in ’n nuwe reeks wat binnekort hier sal wees en baie belowend klink.

Michael cropped

Almost Human word gemaak deur JJ Abrams, die man wat ons die TV-reekse Lost, Alias, Person of Interest, Fringe en Revolution, asook die nuwe Star Trek-flieks gebring het, dus moet dit goed wees. Die reeks speel hom in die toekoms af en gaan oor ’n polisiemag wat met androïede saamwerk, wat my laat dink aan daardie ou reeks van die tagtigerjare, Holmes and Yoyo, maar met mooi mense. Michael speel een van die androïede. Ander sterre is Karl Urban, wat die rol van Bones in die nuwe Star Trek-rolprente vertolk en die tog te pragtige Minka Kelly van Friday Night Lights en Parenthood.

Dit was ’n lekker verrassing toe Michael vir ’n paar episodes as Derrick Bond in The Good Wife verskyn het. Hy was ook te sien in FlashForward en Sleeper Cell. Maar wanneer ek voel dat ek nader aan hom moet kom, youtube ek John Legend se Tonight (Best You Ever Had). Ek is gek na die liedjie, wat uittreksels van Michael in die fliek Think Like a Man bevat. Die reeks klink goed, en nie net weens Michael se wonderbaarlikheid nie. Ek kan nie sien dat DStv nié Almost Human, wat vroeg in November in Amerika begin, sal koop nie.

My derde TV-man is Raylan Givens, die Amerikaanse ondermaarskalk wat in die reeks Justified maar net nie uit die moeilikheid kan bly nie.

JUSTIFIED: Timothy Olyphant as Raylan Givens. CR: Frank Ockenfels III / FX

Hy het die eer om my enigste karakter-man (en die enigste een wat ’n hoed dra) te wees. Hy speel saam met Timothy Oliphant wat regtig ’n aantreklike ou is, maar dis Raylan wat ek bewonder – gevatte, regverdige, windmakerige Raylan in daardie Stetson wat glad nie so goed behoort te lyk nie. Raylan is die koelste ou op TV, en Die Regte Man stem saam. Ek hoop jy kyk na die reeks, want dis ongelooflik goed. Ons behoort seisoen vier later vanjaar jaar op DStv te sien.

* True Blood seisoen 6 begin om 9:30 nm op 15 Julie (vanaand) op M-Net Series Showcase.

- Natalie Cavernelis