As ’n mens in die Kaap bly, voel jy maar altyd so effe afgeskeep as jy ’n Nataniël-aanhanger is. Die sanger en storieverteller toer nie met sy groot vertonings nie en ander optredes hier in die suide is maar dun gesaai.

Hoe lekker is dit dan nie om ’n bundel raak te loop met sketse uit van sy onlangsste verhoogproduksies nie. Dis nie ’n teater-ervaring nie, maar as Nataniël se droë kwinkslae en deerniswekkende vertellings jou nog altyd aan die hart gegryp het, sal jy hierdie boek verslind.

Dis ’n konsert in jou kop, net daar op die bank of onder die sambreel op die strand. En dit verg nie eens verbeelding nie. Dit het Nataniël met sy woorde klaar reggekry.

Jy sien die karakters, hoor hul stem. Lees en geniet dit net.

Nicky & Lou bevat 46 voorheen ongepubliseerde vertellings uit vertonings soos die Aula Concert, Men Who Fly, Coronation en Cathedral – 31 in Afrikaans en 15 in Engels.

Dis ontvlugting op sy beste. Sommer so plonks! En dié verwysing sal jy snap wanneer jy klaar gelees het. Doen dit sommer gou.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Soek jy ‘n winskopie? Kry hierdie produk teen die beste prys. KLIK HIER