Wie het nie al daardie teleurstellende oomblik ervaar toe jy die yskas hoopvol oopmaak, jou hand uitsteek na waar jy weet jy jou heerlike toebroodjie of ’n smullekker soetigheidjie gebêre het – en dis nie daar nie?

Lees ook: Kosblikidees met hoender en pasta

Die goue reël is: As jy dit nie saamgebring, gekoop of toestemming daartoe het nie, is dit nie joune nie.

’n Reddit-gebruiker genaamd Toastedchillies het wraak op ’n kosblikdief tot nuwe hoogtes gevoer.

Toastedchillies is ’n selferkende brandrissiefanatikus wat gek is oor vuurwarm souse en kos maak. Toe sy vrou by hom kla dat haar middagete gereeld uit die gemeenskaplike yskas op kantoor verdwyn, het hy besluit genoeg is genoeg.

Hy het ’n vleismarinade voorberei met Blair’s 4am Reserve, wat glo sowat 7 500 keer meer byt kan hê as branderige tabascosous.

“Nodeloos om te sê, skuins voor middagete was daar ’n onaardse gegil uit die kombuis. ’n Jong man het my vrou se middagete geëet, al was dit duidelik met haar naam gemerk. Hy moes badkamer toe hardloop en tussen alles deur het hy glo gekreun soos een wat wou doodgaan,” vertel hy.

Lees ook: Ma in sop oor ongesonde kosblik

En sy vrou? Dié het heel ongeërg met haar werk voortgegaan. Deesdae bly haar middagete waar dit hoort.

Toastedchillies sê hy wil die jong kollega tog nog eendag vra of hy lekker geëet het daai dag.

In 2012 het ’n studie deur Monster daarop gedui dat 18 persent van die deelnemers al in ander se kosblikke geduik het, terwyl 43 persent slagoffers van dié soort diefstal was.

Hier is ’n paar wenke wat ’n kosblikdief twee keer kan laat dink voor hy weer aan jou kos smul.

Pepermentvars koekies Skraap die smaaklike vulsel van jou gunstelingkoekies (soos Oreos) af en vervang dit met tandepasta.

Nie net sal dit snaaks proe nie; in ’n kleiner kantoor sal ’n skielike vars asem ’n goeie aanduiding wees van wie die oortreder is.

Wasabi-pizza Lig die kaaslagie en besmeer die pizza met ’n dik laag wasabi. Dit sal die kosblikdief waarskynlik na die naaste kraan laat spaander.

Maak toebroodjies wat net jou troeteldier sal eet – omdat die vulsel uit hondekos bestaan. As die broodjie voete kry, kan jy kliphard op kantoor aankondig hoe spesiaal die broodjie nou eintlik was.

Of jy kan dit op 'n interessante manier 'verpak. Hierdie toebroodjies lyk so grillerig dat niemand sommer daarna sal kyk – of daaraan sal wil smul nie.

Daardie ontnugtering wanneer jy na ’n soete happie uitgesien het.

Trap lang vingers vas deur ’n dun lagie gom op jou kosblik/toebroodjiesakkie te sit. Moet net nie daarvan vergeet wanneer jy self jou middagete gaan haal nie!

As hierdie plan vir jou te drasties is: ’n Lagie Vaseline kan ook ’n grillerige afskrikmiddel vir ’n voornemende kosblikdief wees.

Die veiligste opsie is seker om jou kos met ’n kodeslot toe te sluit.

Bronne: i100.independent.co.uk, irishexaminer.com, epicurous.com, howcast.com, inc.com