Namaquafees

28 – 31 Oktober 2010

Sportterrein, Vredendal

Vredendal dien binnekort as verhoog vir ’n splinternuwe musiekfees wanneer die Huisgenoot-Namaquafees van 28 tot 31 Oktober 2010 hier aangebied word. Dit is ’n blinknuwe fees en beloof net die heel beste, afgerond met egte Namaqua-gasvryheid.

Huisgenoot se gewilde musiekplaaskonsep gaan met die fees in Vredendal nuwe hoogtes bereik wanneer meer as twee dosyn van die heel beste en gewildste Afrikaanse sangers hier gaan optree.

Juanita du Plessis, Nicholis Louw, Die Broers, Viljoen Retief, Karen Ferreira, Arno Jordaan, Willem Botha, Andriëtte Norman, Gerrie Pretorius, Elizma Theron en Izak Davel is net ’n paar van die kunstenaars wat feesgangers in vervoering sal hê. Hulle kan ook uitsien om die stemme van Nádine, Kurt Darren, Albert de Wet, Wynand Strydom, Chereé, Andries Vermeulen, Fredi Nest, Romanz, Jennifer Jones, Heinz Winckler en Ray Dylan te hoor op die Huisgenoot Namaqua Wines-aandverhoog.

“Ons is opgewonde om vir hierdie opwindende, nuwe projek met Vredendal en die omliggende gemeenskap hande te vat,” sê Willem Breytenbach, die uitgewer van Media24 Gesinstydskrifte.

Die hoofborge van die geleentheid is Huisgenoot, Namaqua Wines en die Matzikama-munisipaliteit. Die naam Namaqua is gekies om ’n streekidentiteit aan die fees te gee, maar ook ter ere van Namaqua Wines, een van die grootste wynkelders in die suidelike halfrond, wat in Vredendal geleë is.

“Ons deel waar ons vandaan kom, daarom is dit vir Namaqua Wines ‘n voorreg om deel te wees van ’n fees met ‘n verskil,” sê Fanie Augustyn, bemarkingsbestuurder van Namaqua Wines.

Volgens hom is Namaqua Wines se betrokkenheid daarop gerig om iets terug te ploeg in die gemeenskap en watter beter manier om dit te doen, as om ook groot vermaak aan besoekers te verskaf. Die fees beloof om duisende mense te lok wat natuurlik ‘n groot finansiële inspuiting vir die dorp en omgewing sal wees.

“Die Matzikama-munisipaliteit is trots daarop om by die Huisgenoot- Namaquafees betrokke te wees. As plaaslike owerheid is dit vir ons belangrik om geleenthede te ondersteun wat tot die ekonomiese groei van ons streek kan bydra,” sê Dean O’Neill, die munisipale bestuurder.

Hul munisipale gebied lê aan die noordelike weskus van die Wes-Kaap met Vredendal as setel, en sluit dorpe soos Klawer, Lutzville, Vanrhynsdorp, Papendorp, Strandfontein en Doringbaai in.

’n Verskeidenheid kosstalletjies maak voorsiening vir al wat ’n smulpaap is. Feesgangers sal ook by die Huisgenoot-stalletjie teen ’n spesiale prys op Huisgenoot-Pols en -Tempo kan inteken. Kaartjies is by Computicket te kry.