’n Ou Ford-bakkie kom in die plaaspad hier op Dwarsspruit afgery. Dis nie ’n reënerige dag nie, maar die ruitveërs werk oortyd.

Die voorruit is met melktert besmeer. Die bestuurder moet omtrént by sy kantvenster uitleun om te sien waar hy ry. Uiteindelik gooi hy tou op, spring verwoed by die motor uit en beduie met sy arms al swaaiend in die pad af.

Dis Bok van Blerk! En die man is ontsteld.

Skielik klap die skote. Bok koes vir ’n vale. Hy spring terug in die bakkie en jaag op die grondpad aan. “Oukei, cut!” skree iemand.

Dis Sean Else. “Lekker! Ons gaan nog enetjie doen!”

Die toneel word weer en weer herhaal tot Sean tevrede is. Platteland is immers nie sommer so nie – in fliekkringe word reeds gefluister dat dit dalk die grootste gebeurtenis van die jaar op die Afrikaanse fliekkalender kan wees.

Platteland is die baba van Sean, in die regisseurstoel en ook medevervaardiger, en Deon Opperman, befaamde skrywer vir televisie en die verhoog. En die spelers wat hulle daarvoor gekry het, het geen bekendstelling nodig nie.

Platteland het ’n klein beroering veroorsaak hier op Vrede en Verkykerskop in die Vrystaat waar baie van die tonele geskiet is. Dit gebeur immers nie aldag dat soveel sterre op so ’n klein plekkie saamtrek nie.

Afgesien van Bok en sy medesangers Steve Hofmeyr en Lianie May is daar ook die Egoli-manneIvan Zimmermann en Izak Davel, wat albei deesdae sing, die sanger Jay, Dirk Stoltz van Erfsondes en Hanna Grobler van Getroud met Rugby.

Dan is daar ook nog Karlien van Jaarsveld, ousus van Bobby en self deesdae ’n sanger van formaat,Annette Engelbrecht, ’n ou bekende van Orkney Snork Nie-faam, en Viljé Maritz, seun van die bekende akteur Albert en ’n ou wat Binneland-kykers dadelik sal herken.

Platteland is die verhaal van Riana, gespeel deur Lianie, ’n plaasmeisie wat ná haar ouers se dood alleen op die plaas Wonderfontein agterbly. Sy en haar broer, Wian (Vaughan Gardiner), probeer die plaas uit die kloue van die gierige sakeman Mike Ferreira (Steve) hou.

Mike en sy trawante besit feitlik die hele dorp en probeer alles in hul vermoë doen om Wonderfontein ook te annekseer. Riana ruik lont en plaas ’n advertensie in Landbouweekblad vir ’n sekuriteitskonsultant om haar plaas te kom oppas. Dis hoe Dirk (Bok) op Wonderfontein beland, en die vonke begin spat.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot, 10 Februarie 2011. Kry die ikoonprogram en kiek die ikoon by die artikel met jou foon om te sien hoe Jay gegrimeer word voor hy ’n toneel skiet.