By ’n onlangse KKNK buite- uitsending het ek net weer besef watter aanwins Heinz Winckler vir die popmusiekbedryf in Suid-Afrika is. Hy het soos gewoonlik nie ’n noot uit plek gesing nie. Verskeie treffers het ná Heinz se Idols-oorwinning gevolg en met sy fokus wat ál meer in ’n Afrikaanse rigting verskuif, het liefhebbers van die popgenre hom as ’n trefferfabriek leer ken. Met sy nuwe album, Jy’s Bonatuurlik, bewys hy weer hy is een van die min kunstenaars wat Afrikaanse en Engelse liedjies op ’n album kan meng sonder dat dit soos ’n persoonlikheidskrisis klink. Honeymoon by die Huis plaas jou vinnig in ’n vakansieluim. Live Like You’ll Never Die is ’n lofsang vir enige dag dat jy die waarde van die lewe van voor af besef, terwyl die titelsnit die groot balladetreffer op die album is.

Hier is 'n kort insetsel van die hoogtepunte op die album.

– MARTELIZE BRINK (RSG)