Hy het hom aan my voorgestel as Johan. Ek het hom net een keer op sy voornaam genoem, en dit het heeltemal verkeerd gevoel. Sedertdien was hy nog altyd mnr. Volsteedt. Soms het ek my betrap dat ek hom “meneer” noem – en ek is nie die enigste een nie! Baie van die kamera- en produksiepersoneel doen outomaties dieselfde . . .

Die saak staan so: Mnr. Volsteedt is een van die min mense wat ek in my lewe ontmoet het vir wie ek onmiddellik respek gehad het. Dit het my verbaas. Ek dink nog altyd dat respek iets is wat ’n mens moet verdien. Maar mnr. Volsteedt straal net die soort waardigheid en leierskap uit wat maak dat jy nie anders kan as om hom te bewonder nie.

Hy kan onverbiddelik wees – dit het ons immers al in die reeks gesien. Hy is streng oor rook, onnetheid en slegte houdings in sekere klasse. Maar ek glo nie hy is iemand wat sommer vanself streng is nie. Ek vermoed hy dwing hom om ongenaakbaar te wees omdat hy weet die kinders het dit nodig. Maar ek dink hy het eintlik ’n sagte hart.

Mnr. Volsteedt het eers regte geswot, maar van plan verander toe hy besef dat die onderwys hom na aan die hart lê. “Ek wou ’n onderwyser word sodat ek met kinders kon werk. Ek hou daarvan,” het hy eenvoudig gesê.

Hy het lief geword vir die droomskool-kinders en ek weet hy gaan in die toekoms vir hom ’n plek in hul lewe maak. Hy haat dit dat ’n klomp van die verskriklike goed wat met hierdie kinders gebeur het, deur hul eie familie veroorsaak is.

“Ek glo regtig dat kinders net kinders is, ” het hy een keer vir my gesê. “Omstandighede en slegte keuses verander kinders. As daar een ding is wat hulle van hier af huis toe moet neem, is dit dat hulle van nou af die regte keuses moet maak.”

En met mnr. Volsteedt in hulle lewe, dink ek hulle sal.

Kyk vanaf 13 October elke Sondag om 17:00 na MySchool Dream School op M-Net, M-Net HD, Mzanzi Magic and M-Net Series.

Lees meer: www.dreamschool.co.za