Toe die mense van die Kaapse kuswoonbuurt Seepunt een November-oggend verlede jaar ontwaak, staan daar 14 sinkhuisies op die sypaadjie, met seker 50 mense wat hul goedjies uitpak en ’n ou omie wat vervaard verduidelik sy mense het geen ander heenkome nie.

Die inwoners van dié gegoede buurt was kwaai omgekrap oor hul nuwe bure – tot iemand die versteekte kameras in die minibussies langs die armsalige gehuggies raaksien en besef: Dis weer Leon Schuster aan die fliek maak.

En word daar nie nou in Suid- Afrika flieks gemaak nie... Schuks Tshabalala’s Survival Guide to South Africa 2010 is maar een van ’n hele swetterjoel plaaslike flieks wat vanjaar hier by ons verskyn, want die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf beleef ’n bloeitydperk soos min.

Die regering het twee jaar gelede besluit hy subsidieer voortaan plaaslike rolprente vanmeer as R2,5 miljoen met 35 persent – en sedertdien was daar ’n behoorlike fliekontploffing, met 63 flieks wat geld uit die staatskoffers gekry het.

En dis nie net die rolprentbase wat danksy dié geldelike hupstoot die hele pad bank toe lag nie. In die afgelope twee jaar het die bedryf self al R875 miljoen aan sy rolprente bestee.

Lees meer hieroor en watter flieks wat plaaslik vervaardig is in die uitgawe van 8 April