Ons boekvraat het afgekom op ’n paar baie goeie gidse wat jou sal help om jou eie boek geskryf te kry

IN WEKE waarin dit besig is by die werk (soos verlede week, in my geval), is ek dikwels saans eenvoudig te pootuit om te lees. (Ek lees baie as deel van my werk.) Maar dan ontspan ek deur in my eie huis in ’n e-boekwinkel te snuffel. Toegegee, ’n regte boekwinkel ruik na boeke en hout en het die kleurryke skutblaaie wat jou oog vang (en gewoonlik ’n lekker koffiewinkel om die hoek), maar glo my, jy kan ook heerlik window shopping in die e-boekwinkels doen.

Verlede week het ek weer op ’n paar lekker boeke afgekom. As jy in Amazon se Kindle-afdeling bloot die woord “Afrikaans” intik, kan jy die stortvloed Afrikaanse boeke sien wat nou op dié webwerf beskikbaar is: Deon Meyer se boeke, Philida van André P. Brink, Die Blou Van Onthou van Marita van der Vyver, Eben Venter se Wolf, Wolf, ’n paar Ena Murray-omnibusse, en ’n paar vryerige boeke vir dié wat te skaam is om dit van ’n winkelrak te haal. Selfs die grootste deel van die Maasdorp- en Keurboslaan-kosskoolreekse is nou op Amazon te koop. Ek was ure lank besig. Géén Engelse e-boeke meer wanneer ek see toe gaan nie!

Die meeste van dié boeke is natuurlik ook by kalahari.com beskikbaar – dis nou net dat ek ’n baie innige verhouding met my Kindle het, wat die snuffel- en koopwerk op Amazon makliker maak. Een van die juwele wat ek raakgekindle het (en wat ook as e-boek op kalahari.com beskikbaar is), is Al Zuckerman se Writing the Blockbuster Novel. Daar is baie soortgelyke skryfgidse op die mark, maar ek het van dié boek gehoor toe die een of ander spanningsverhaalskrywer onlangs in ’n onderhoud gesê het hy het sy beste skryfwerk gedoen nadat hy Zuckerman se boek gelees het. Dit is glo die “meesterwerk” vir mense wat daarvan droom om hul eie Deon Meyer te skep.

Blockbuster

Writing the Blockbuster Novel sit in hoofstukke uiteen hoe jy aan die gang moet kom, atmosfeer moet skep in jou verhaal, hoe om “larger-than-life” karakters te skep en die intrige op te bou. Wat meer is, die boek is regtig baie leesbaar, selfs vermaaklik, en sal ook geniet word deur mense wat bloot nuuskierig is oor hoe hierdie verhale geskep word. (Is dit net ek wat “verneuk” voel as ’n spanningsverhaal platval met ’n swak slot? Wat voel jou kosbare leestyd is verspil? Zuckerman weet hoe om dit te voorkom.) Die boek se inleidende hoofstuk is deur Ken Follett (skrywer van die World Without End-boekreeks) geskryf en is baie, baie snaaks. Dis lekker leesstof vir boekvrate.

Vir Afrikaanse lesers is daar twee boeke uit eie bodem wat ook ’n móét-lees is vir mense wat wil skryf, of bloot die kuns van skryf kan waardeer. Om te Skryf (Van Schaik Uitgewers) en Die Afrikaanse Skryfgids (Penguin) is albei as boeke én e-boeke op kalahari.com beskikbaar.

Recently Updated2

Dit bevat van die beste skryfwerk in Afrikaans (korterige skryfstukke), sowel as praktiese raad en verhaalbesprekings. Trouens, dié boeke sal ook uitstekende hulpmiddels in skryfklasse vir hoërskool- en universiteitstudente wees.

Lees ander blogs deur ons boekvraat:

Geheime in Venesië

JK Rowling (oeps!) se eerste speurroman is ’n wenner

Nuwe boeke vir buksies

Oe-la-la . . . vuurwarm leesstof vir koue aande

Leer by die beste. Leer by Jack Reacher

Wat is ’n huis sonder ’n hond?

Op reis deur Florence saam met Inferno

Bloggers en Facebookers sal van dié spanningsverhaal hou