Waaroor gaan dit? ’n Wyse ou man sit by ’n kampvuur en vertel die verhaal van ’n wit leeuwelpie, Letsatsi, wat verwerp word uit die trop en dan die natuur se bedreigings alleen moet trotseer om te oorleef. ’n Jong man, Gisani, volg hom maar loop hom teen trofeejagters vas.

Wie sal hiervan hou? As jy in die Wildtuin by elke dier wat ’n skadu gooi, stilhou en opgewonde met jou mik-en-druk kiek of voëls ywerig met verkykers bespied of die natuur met elke greintjie krag in jou liggaam bewonder, sal jy dol wees hieroor. Hier is uiteindelik ’n uitstekende plaaslike rolprent wat Afrika en sy diere met respek hanteer en hul stories toeganklik en boeiend oordra sonder om in ’n natuur-dokkie-styl te verval. Omdat John Kani se rustige vertelstyl die visuele beelde so raak onderstreep en aanvul, word dit ’n plaaslike kykervaring soos min! En Letsatsi sal diep in jou hart kruip.

Wag vir DVD? Nee, ’n mens sien genoeg dokumentêre flieks oor diere op televisie. Gaan kyk ’n bietjie op die groot skerm hoe mooi die ongetemde Afrika deur die oë van ’n leeuwelpie lyk en hoe verraderlik die natuur kan wees as jy klein en onskuldig is. Pa en ma, dis die beste manier denkbaar om jou iPod-verslaafde kinders aan die natuur bekend te stel. Die fliek sal hulle wakker skud en moontlik die begin wees van ’n romanse met Afrika en sy diere wat hulle lank sal onthou en waardeer.

Soortgelyke flieks Born Free, Two Brothers (’n DVD-fliek oor twee tierwelpies), The Lion King.

Springmielie-feit Die Shangaans glo wit leeus bring boodskappe van die gode af. Dis wat die storie geïnspireer het.

Diereverhaal. Met Thabo Malema, John Kani en Jamie Bartlett. Regisseur: Michael Swann. OL. Begin op 19 Februarie.

Wat ons dink: 4/5