Komedie. Met Justin Timberlake, Jeff Bridges en Kata Mara. Regisseur: Michael Meredith. OB. Begin op 18 Desember.

Waaroor gaan dit? Sy pa is ’n legendariese bofbalspeler. Hierdie koel ou met die houding wat gebou is om te hou, soek sy vervreemde pa op toe sy ma skielik siek word. Dan vra die dude sy meisie om emosionele bystand en hulle vat die pad saam met sy eksentrieke pa...

Wie sal hiervan hou? Beslis aanhangers van Justin Timberlake. Dié talentvolle jong sanger/danser/model hou sy lyf vir ’n verandering akteur en bewys dat Alpha Dog destyds nie ’n vloekskoot was nie. Hy kan sterk gestalte gee aan ’n karakter, hy kan sy persoonlikheid ontgin en hy het die meeste kunsies bemeester om nuanse na ’n vertolking te bring. Dus is die jong mnr. Timberlake amper die enigste rede om jou Kersweek saam met hierdie trio op die grootpad deur te bring. En natuurlik Jeff Bridges se deurleefde spel, hoewel dit soms moeilik is om te hoor wat hy sê.

Wag vir DVD? Ja, want die probleem is dat hierdie fliek in so ’n mineursleutel gemaak is dat ’n mens se aandag maklik dwaal. Die eerste gedeelte is taamlik strak en stil. Daar kort ’n energie wat die rolprent ’n lekker skop onder sy jis kan gee en dit is verantwoordelik vir die verlies van ’n derde ster. Dit vertel die eeue oue storie van ’n pa en sy vervreemde seun wat vrede maak nadat hulle ’n week lank saamgegooi word in ’n motor met, natuurlik, ooglekkergoed in die vorm van Kate Mara wat nie genoeg dialoog het om lewe in haar karakter te sit nie. Gemiddeld, maar ’n moeilike sit.

Soortgelyke flieks Dad, The Burning Plain, Fireflies in the Garden.

Springmielie-feit Justin Timberlake was aanvanklik ’n lid van die bekende boyband ’NSync.

Op die internet: www.theopenroadmovie.com