Waaroor gaan dit? ’n Bleeksiel-komediant verloor sy sin vir humor in Johannesburg, die stad van rowers, rykes en spoed. Hy beland in ’n inrigting waar hy desperaat probeer om al sy varkies terug op hok te kry. Maar dan besluit hy om te ontsnap . . .

Wie sal hiervan hou? Nie noodwendig lesers wat dink Leon Schuster se flieks is koel nie, want hierdie fliek stel sy visier ’n bietjie hoër en maak selde van slapstick gebruik. Om die waarheid te sê so tussen die dolle jaagtogte, geheime daggaplantjies, grappies en stywe kwinkslae is daar ’n tikkie erns. Wat laat Johannesburgers tiek? Is hulle verslaaf aan die woeste gevaar wat hul daaglikse bestaan bedreig of is hulle masochiste? En wat is vir hulle snaaks? Kan Gautengers nog lag? Hierdie vrae word op ’n spitsvondige, vermaaklike en intelligente manier beantwoord.

Wag vir DVD? Ja, jy kan, want dis die soort fliek waar jy vir jou pelle wil sê: “Magtag, man! Dís mos nou ’n fliek oor Jo’burg in al sy aaklige skoonheid en wonderlike waansin!” (En ’n mens praat nie in ’n fliek nie, dus moet jy jou aanmerkings vir die DVD hou.) Hoe die ander agt provinsies oor hierdie opehartoperasie op Jozi sal voel, is ’n ander vraag. Kapenaars sal dalk nie ’n duit omgee wat Gautengers dink is koddig nie. Maar tog is hierdie komedie ’n trappie bokant die gewone plaaslike komedies met sy skerp, onbevooroordeelde siening van wat Jozi so uniek en komies gevaarlik maak. Dit word aanbeveel.

Soortgelyke flieks Dollars and White Pipes, Guns and Noses, Jump the Gun.

Springmielie-feit Carl Beukes is bekend vir sy rolle in die TV-reekse The Res en Isidingo.

Komedie. Met Carl Beukes, Lionel Newton en Jena Dover. Regisseur: Craig Freimond. 13 TD.

Begin op 27 Februarie draai.

Wat ons dink: 3/5