Waaroor gaan dit?

’n Geskeide vrou begin weer ’n verhouding met haar eksman wie se huwelik met ’n nuwe jong vrou nie uitwerk nie. Dan ontmoet sy ’n sjarmante geskeide outoppie . . .

Wie sal hiervan hou?

Enigiemand wat al deur die hel van ’n egskeiding of mislukte romanse gegaan het en doringdraad kou van woede en verwyte. Hierdie sjarmante en slim komedie wys dat daar wél ’n tweede kans op geluk is, maar dat die regte keuse bitter moeilik is. Die draaiboek is van die pittigste in jare, die karakters is mense nes ek en jy en hul probleme is maklik om te verstaan. Maar dis die kombinasie van Streep, Baldwin en Martin wat woema in die rolprent sit. Voeg daarby Nancy Meyers se menslike en sprankelende regie asook genoeg kwinkslae en jy sal twee uur lank brul van die lag! Al moet jy ’n kaartjie gaps, gaan kyk!

Wag vir DVD?

As jy bo 16 maar onder 23 is, dink jy dalk dis ’n jiggie fliek omdat dit handel oor “ou mense” wat weer verlief raak, daarom sal jy dit dalk liewers eers op DVD wil sien. Maar jy maak ’n fout, pel. Dié fliek is kraakvars-lekker, blink van ’n byderwetse gees en handel ook oor die manier waarop kinders egskeidings verwerk sonder om geskaad te raak. Jy leer eintlik om vir jou ouers en hul probleme én neurose te lag. Die sekstonele is ritteltit-snaaks en sal jou deur nuwe oë na volwassenes laat kyk wat eintlik maar dieselfde probleme en skuldgevoelens as jong mense het. As jou beursie plat is, los die springmielies en kies die fliek!

Soortgelyke flieks

Sleepless in Seattle, As Good As It Gets, About Schmidt.

Springmielie-feit

’n Dubbelganger is vir Alec Baldwin se naaktonele gebruik.

Wat ons dink: 4/5

Romantiese komedie. Met Meryl Streep, Alec Baldwin en Steve Martin. Regisseur: Nancy Meyers. 16.

Begin op 26 Februarie.