Die Israeliese rolprentmaker Ari Folman was ’n 19-jarige soldaat toe sy land Libanon in 1982 binnegeval het.

Hy weet hy was getuie van die Sabra- en Shatila-slagting in Beiroet – waar Libanese rebelle duisen-de Palestynse burgers doodgemaak het terwyl Israeliese soldate toekyk. Tog kan hy 20 jaar later niks daarvan onthou nie.

Toe hy vreemde terugflitse begin kry, besluit hy om vir sy destydse kamerade te gaan vra wat hulle daarvan onthou.

Die uiteinde is een van die kragtigste flieks wat jy ooit sal sien.

Dis nie soseer ’n fliek oor oorlog nie, maar eerder ’n ondersoek na hoe ons ontstellende voorvalle onthou en die na-gevolge van posttraumatiese stresversteuring. Dit was geniaal om ’n tekenprent daarvan te maak.

Die hede, verlede, drome, nagmerries – alles word as ’n strokiesprent-fantasie aangebied, maar omdat die kyker weet die voorvalle het werklik gebeur, is die briljante beelde nog aangrypender. Die fliek hou jou van begin tot einde vasgenael, en die slot sal jou na jou asem laat snak.

Ontstellend, maar belangrike kykstof.